Voormalige Gimmie krieketster kry IPL-kontrak

Duan Jansen gaan nou nes sy tweelingbroer Marco, ook in die IPL in 2023 speel.

Die NW Dragons se veelsydige speler, Duan Jansen, gaan nou in 2023 ook in die Indiese Premierliga (IPL) krieket speel nadat die Mumbai Indians hom op die veiling hierdie afgelope week gekontrakteer het.

Hierdie voormalige Gimmie kry nou ook nes sy tweelingbroer, Marco, ook die geleentheid om in hierdie top T20-krieketliga te kan speel. Marco sal komende jaar vir die Sunrisers Hyderadbad uitdraf, en sodoende is die Jansens die enigste tweeling in die 2023 IPL.

Duan Jansen tydens ‘n kort video waar hy as ‘n nuwe Mumbai Indians speler aangekondig is.

Benewens die feit dat Duan ‘n paar ekstra rande in sy sak sal kry, is dit ook ‘n geleentheid vir hom om teen die beste krieketspelers te kan speel en ook sy staal met bal en kolf kan wys.

Sy linkerarm swaaiballe bied goeie variasie terwyl sy aggressiewe kolfwerk en talent om ‘n bal ver te laat trek, ook natuurlik groot aansporing vir die Mumbai Indians was om hom in die veiling te koop.

“Ek is opgewonde om in volgende jaar se IPL vir die Mumbai Indians gekies te word. Dankie aan die afrigters en eienaars wat my ondersteun het en ek is opgewonde om volgende jaar by die familie aan te sluit,” het Jansen in ‘n video kort na sy insluiting in die Mumbai Indians IPL span genoem.

“Ons het die talent in Duan Jansen gesien. Ons het gevoel dat dit die regte tyd is, Duan het baie vordering gemaak oor die afgelope drie jaar. Hy is ook deel van ons Mumbai Indians Cape Town-span, so ons voel ons kan voortbou op sy talent en dit waarin ons belê het – ons steun die spelers 100%,” het Mumbai Indians se hoofafrigter, Mahela Jayawardene, gesê.

Exit mobile version