Plaaslike jong stoeiers kan naam maak by SA’s

Albei stoeiers se droom is om die SA-titel te wen. Vir dit om te gebeur is die geheim om laag te bly sodat hulle hul stoeihoogtes kan bereik.

Twee kranige jong Potchefstroomse stoeiers het die geleentheid om teen Suid-Afrika se beste stoeiers te kan kompeteer tydens die SA Jeug Stoeikampioenskappe in Stellenbosch vanaf 6-8 Oktober.
Du Toit Loubser (11) ‘n graad 5-leerder van Laerskool Mooirivier en McCaw Lerm (11) ‘n graad 6-leerder van Laerskool M.L. Fick gaan albei Noordwes Stoei by hierdie kampioenskappe verteenwoordig.
Beide hierdie stoeiers is verbonde aan die Dome Stoeiklub en word deur die SA kampioenstoeiers, Rubin Jansen van Vuuren en Tanki Tau, afgerig.

Twee kranige stoeiers, McCaw Lerm (11) en Du Toit Loubser (11) saam met hulle afrigter, Rubin Jansen van Vuuren. Foto: Wouter Pienaar

Du Toit het onlangs ‘n silwermedalje by die Mpumalanga Ope behaal, terwyl McCaw verlede jaar ‘n goue medalje behaal het.
“Ek het in graad 2 begin stoei om fiks te bly vir rugby. Stoei help my ook baie om op ‘n goeie manier my frustrasies te kan uithaal,” noem Du Toit blinkoog.

McCaw het in graad 3 begin stoei, juis om homself teen boelies te kan verdedig.
“Ek geniet stoei vreeslik. Om vir groot kompetisies voor te berei sal ek ‘n handdoek oor my kop gooi om gefokus te bly. So skakel ek af en kry my kop reg,” noem hy.

Albei stoeiers se droom is om die SA-titel te wen. Vir dit om te gebeur is die geheim om laag te bly sodat hulle hul stoeihoogtes kan bereik.

Vir meer inligting oor Dome Stoeiklub kan Louise by 071 801 1251 gekontak word.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version