SportSport

Cravenweekfinaal ‘n geleentheid uit die Here se hand vir plaaslike skeidsregter

"Ek skeidsreg vir die Here. Hy is die een wat my die geleenthede gee en gesond hou.”

Luiperds skeidsregter, Hanru van Rooyen (23), het die unie trots gemaak toe hy die fluitjie blaas in die hoofwedstryd in vanjaar se 2022 o.18 Cravenweek in Kaapstad.

Die hoofwedstryd Saterdag, 9 Julie was ‘n titaniese stryd tussen die room van WP en die Blou Bulle se o.18 skolesterre. WP het met 29-21 op die Tinkie Heyns-veld in Rondebosch gewen.

Hanru van Rooyen het as skeidsregter in die 2022 Cravenweek se hoofwedstryd opgetree. Dit is ‘n briljante prestasie vir hierdie 23-jarige oud-Volkie. Foto: Wouter Pienaar

In hierdie wedstryd het dié voormalige Hoër Volkskool Potchefstroom en Luiperds Cravenweek losskakel homself goed van sy taak gekwyt en bewys dat hy ‘n fyn oog vir die spel het.

Hanru het in 2017 op losskakel vir die Luiperds o.18 Cravenweekspan in Johannesburg uitgeblink en 70 punte aangeteken. Nou, vyf jaar later, is hy weer by die Cravenweek in skeidsregterskleure waar nog meer oë op hom gefokus is.

Nie dat hy omgegee het nie, aangesien hy net hierdie ongelooflike ervaring van die eerste tot die laaste fluitjie met ‘n groot glimlag ingeneem het.

“Die Cravenweekfinaal was op ‘n baie hoe tempo gespeel. Dit was baie goeie rugby en daar was uitstekende talent. Die spoed van die wedstryd was ongelooflik en albei spanne was goed afgerig en goed gestruktureer. Dit was ‘n vol stadion en ongelooflik om deel te kon wees,” vertel Hanru opgewonde.

Hanru tydens die 2017 Cravenweek waar hy vir die Luiperds op losskakel uitgedraf het. Foto: Sydney Seshibedi

Dit is ‘n fantastiese prestasie vir hierdie jong man wat reeds die jongste skeidsregter in die geskiedenis is wat in die Neserligafinaal geblaas het. Vir hom was dit ‘n eer om terug te wees by die Cravenweek waar hy in ‘n nuwe hoedanigheid sy passie kon uitleef.

“Dit was baie spesiaal gewees om weer hierdie keer deel van die Cravenweek te wees as ‘n skeidsregter. Dit is die gesogste skolerugbytoernooi in die wêreld. Ek sal nooit genoeg kan dankie sê dat ek kan deel wees van so ‘n groot toernooi nie,” beaam Hanru.

Hanru van Rooyen (middel) saam met JD Meyer (links) van SWD en Jonathan Lottering (regs) van die Luiperds. Meyer en Lottering was Van Rooyen se assistent-skeidsregters op die kantlyn vir die 2022 Cravenweek se hoofwedstryd wat op 9 Julie in Kaapstad plaasgevind het. Foto: Verskaf

Die Cravenweek was ook ‘n uitstekende geleentheid vir Hanru om lang ure van selfanalise in te sit en saam met mede-skeidsregters ‘n nuwe siening oor die spel te kry. Die Cravenweek was met ander woorde ‘n leerskool waar hy nuwe vaardighede aangeleer het om in sy ‘wedstrydrugsak’ te pak.

“Die meeste wat ek geleer het is om die wedstryd te fasiliteer. Ons het baie ons eie vertonings geanaliseer sodat ons as skeidsregter nie die span of wedstryd negatief beïnvloed nie. Ons het onsself as skeidsregter in die spelers se skoene geplaas.

“Ek het baie geleer oor die ingesteldheid wat ‘n skeidsregter in ‘n wedstryd ingaan en dit is iets wat ek saam met my sal vat vir die res van my loopbaan,” noem Hanru.

Hy is tans primarius van Soetdoring Manskoshuis aan die NWU en doen sy Meestersgraad in B.Com. Hierdie rooikop is al sedert graad 9 in 2014 deel van die skeidsregterswêreld en volgens hom is dit ‘n proses om die hoogste vlakke te kan bereik.

“Wees geduldig, fokus op die prosesse en kry soveel wedstryde agter jou rug as moontlik. Leer uit elke wedstryd en maak notas vir die volgende een,” vertel hy.

Volgens hierdie jong skeidsregter is dit ook belangrik om na kritiek te luister.

“Ek leen my oor uit oor kritiek en ek probeer om dit as opbouend op te neem en sodoende te verbeter so ver ek kan. Jy moet nie te oorhaastig wees nie. Bly hard werk en ‘n mens sal bo uitkom.”

Volgende op Hanru se visier is om sy debuut as skeidsregter in die Varsitybeker te maak. Hy is reeds assistent-skeidsregter langs die kantlyn, maar om in die middel van die aksie te wees is natuurlik die groot hoogtepunt.

“My doelwitte is om te bly hard werk, fiks te bly en my debuut in die Varsitybeker en Varsity Skild te maak,” sê hy. Hanru is ook ‘n man wat weet dat hy niks kan bereik sonder sy Skepper nie. Vir hom is elke wedstryd ‘n geleentheid om die Here se naam groot te maak.

“My grootste inspirasie is die Here, die Man daar bo. Sonder Hom sou ek dit nie kon doen nie. Hy is in beheer en lei my op die veld. Ek skeidsreg vir die Here. Hy is die een wat my die geleenthede gee en gesond hou.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button