SportSport

Potch gholfspeler gereed om naam te maak op Sunshine-toer

Sy groot doelwit is om een toernooi in sy eerste jaar op die Sunshine Toer, SA se grootste en gesogste gholftoer, te kan wen.

Die Potchefstroomse gholfspeler en tans nommer een gekeurde amateurspeler in Suid-Afrika, Christiaan Burke, het besluit om professioneel te gaan.

Burke het die afgelope paar jaar groot sukses as amateurspeler behaal waar hy plaaslik op amateurtoernooie talle oorwinnings ingeryg het. In 2021 het ook 13 seges behaal. Verder het hierdie kranige speler ook oorsee gholf gaan speel vanjaar en sy spel sodoende opgeskerp om nou die volgende stap as professionele speler op die Sunshine Toer kan vat.

“Daar is baie maniere om professioneel te gaan. Ek het tussen al my amateur-toernooie ook ‘n klein mini-toer gespeel. Ek het toe op die Order of Merit gewen en my professionele kaarte gekry. Aan die einde van my Europese toer het ek besluit om die volgende stap te vat,” noem hy.

Burke is ‘n oud-Volkskool matrikulant en het sy laerskoolloopbaan by Baillie Park voltooi. Hy het al op skool gewys dat hy baie gholftalent het en nou kan hy verder aan sy drome op professionele vlak bou.

Volgens Burke sien hy die meeste uit na ‘n meer kompeterende veld wat hom ook as gholfspeler sal uitdaag en sal laat groei.

“Ek sien uit na groter kompetisie. Ek sien ook uit na die geleentheid om na verskillende plekke te kan reis,” meen hy.

Christiaan Burke het die afgelope paar jaar talle oorwinnings behaal.

Sy groot doelwit is om een toernooi in sy eerste jaar op die Sunshine Toer, SA se grootste en gesogste gholftoer, te kan wen.

“Ek wil definitief ‘n toernooi wen en dit sal vir my baie beteken. Ek weet ook dit gaan baie harde werk vat.”

Burke bedank ook sy afrigter, Grant Veenstra, tho Bezuidenhout (sielkundige), Gavin Groves (kondisionerings-afrigter), sowel as sy familie en vriende wat hom vir jare al ondersteun.

“Ek is dankbaar vir hulle en ek kan nie wag om my volgende stap saam met hulle te vat nie.”

Burke se eerste groot uitdaging is die FNB Eswatini Nkonyeni Challenge wat in Swaziland vanaf 28 Julie plaasvind.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button