Statebondspele in NWU netbalspeler se visier

Die Noordwes Universiteit (NWU) en North West Flames se kookwater doel, Elmeré van der Berg, se Protea-droom het nog ’n hupstoot gekry. Die hoofafrigter van die Protea netbalspan, Dorette Badenhorst, het Van der Berg as deel van haar voorlopige groep vir die 2022 Statebondspele ingesluit. “Ek wou oorspronklik eintlik glad nie die aankondiging Donderdag kyk …

Die Noordwes Universiteit (NWU) en North West Flames se kookwater doel, Elmeré van der Berg, se Protea-droom het nog ’n hupstoot gekry.

Die hoofafrigter van die Protea netbalspan, Dorette Badenhorst, het Van der Berg as deel van haar voorlopige groep vir die 2022 Statebondspele ingesluit.

“Ek wou oorspronklik eintlik glad nie die aankondiging Donderdag kyk nie,” het Van der Berg gesê. En dit is verstaanbaar, want daar is altyd die potensiaal vir teleurstelling. “Maar toe my vriendinne langs my opspring en uitbundig skree, het die trane begin loop.”

Elke jong netbalspeler koester die droom om eendag die groen en goud oor hulle koppe te trek en Van der Berg is geen uitsondering nie. Sy het in 2021 die eerste keer op die spanlys van die Proteas verskyn en beaam dat dit ‘n “droom is wat waar geword het”. Haar visier is nou egter op haar volgende droom ingestel, en dit is om Suid-Afrika by die Statebondspele te verteenwoordig wat geskeduleer is om tussen 28 Julie en 8 Augustus in Birmingham, Engeland plaas te vind.

Daar is egter nog ‘n hekkie waaroor Van der Berg moet klim voordat sy hierdie droom kan bewaarheid. Drie spelers uit die voorlopige span gaan ongelukkig moet uitval, omdat net 12 na Engeland mag vertrek.

Elmeré van der Berg (21) in aksie vir die Flames van Noordwes tydens die 2022 weergawe van die Telkom netballiga. Foto: Facebook/Netball SA

Hulle word dan reserwespelers wat opgeroep kan word indien enige ander speler ‘n besering sou opdoen. Van der Berg het egter nie ‘n negatiewe uitkyk hierop nie. “As ek een van die drie is wat uitval, weet ek dat daar op die ou einde ‘n groter plan is. Dit beteken net dat ek nog so ‘n bietjie geduldig moet wees.”

Netbal Suid-Afrika het nog ‘n groot aankondiging gemaak in dieselfde week en dit is dat daar aan 24 Suid-Afrikaanse netbalspelers kontrakte uitgereik is. Dit beteken dat dié sport ook uiteindelik in Suid-Afrika as ‘n beroepsport soos rugby en krieket beskou en ingereken word.

Volgens Van der Berg, sal hierdie ‘nuwe baadjie’ wat Netbal Suid-Afrika aangetrek het, die sport nie net meer aanloklik maak vir opkomende spelers nie, maar ook die diepte van Suid-Afrikaanse netbal ontwikkel. Sy self is ook by die 24 spelers ingesluit en gebruik die woord “dankbaarheid” om die geleentheid te beskryf.

“Dis natuurlik ‘n baie groot voorreg. Ek is elke dag dankbaar dat ek my talente kan uitleef en my drome najaag.”

Voormalige NWU netbalkaptein, Monique Reyneke (26), het ook ‘n kontrak vanaf Netbal Suid-Afrika ontvang en koester dieselfde drome as Van der Berg, naamlik om aan die einde van Julie saam met die span na Engeland te vertrek.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version