SportSport

NW rolbal se jonges wen brons by SA’s

Hierdie suksesse word egter afgerond deur die Noordwes A-span wat vir die provinsie ‘n brons medalje huis toe gebring het.

Rolbal Suid-Afrika se nasionale o.20 toernooi beloof altyd om ‘n opwindende geleentheid te wees wat ongelooflike talent onder jongmense ten toon stel. Hierdie jaar het weer eens nie teleurgestel nie.

‘n Totaal van 30 junior rolbalspanne van regoor die land het tydens die afgelope toernooi vanaf 28 Maart tot 1 April in Bloemfontein vergader om mekaar die stryd aan te sê. Weens die snelle groei van die aantal jonger spelers in rolbalkringe, was Noordwes daartoe in staat om vir die eerste keer in die geskiedenis twee spanne na hierdie toernooi te stuur.

Die Noordwes o.20A-span het ‘n bronsmedalje van Bloemfontein af teruggebring na ‘n uitstekende vertoning by die nasionale rolbalkampioenskappe vir o.15 en o.20 spelers wat vanaf 28 Maart tot 1 April aangebied is. Van links is Werner Hildebrand (spanbestuurder), Lezandri Hildebrand (lead), Johandré Britz (tweede), Thinus van Zyl (derde), Hope Offer (reserwe) en JD Delport (Skip). Foto: Verskaf

Spanne het oor die afloop van nege wedstryde hul bes moes gee om te bepaal wie uiteindelik in die toernooi finaal sou deelneem, asook in watter algehele posisie elk uiteindelik sou eindig.

Beide Noordwes A- en B-spanne het met dryf en deursettingsvermoë gewys dat hierdie klein provinsie vir geen ander hoef terug te staan nie, deur plekke in die top helfte op die ranglys te behaal.

Hierdie suksesse word egter afgerond deur die Noordwes A-span wat vir die provinsie ‘n brons medalje huis toe gebring het.

Dít nadat hul die appelkar omgegooi het deur die aanvanklike seksie-voorlopers, Namibië, met ‘n skouspelagtige oorwinning vir die kwarteindrondte uit te skakel. (Besoek gerus die skakel https://fb.watch/ccpKbpkPn2/ om hierdie wedstryd te kyk).

Plaaslike rolbal het veral oor die laaste paar jaar ‘n enorme oplewing onder skoolgaande spelers ervaar. Dit is ongelooflik om te sien hoeveel talent vir hierdie sport in die jongmense steek en weerspreek beslis die stigma dat dit slegs vir ouer mense is.

Die milieu wat tydens so ‘n toernooi heers, spreek deurentyd van goeie sportmangees, hoewel sterk kompetisie, maar laat ook toe vir die smee van nuwe vriendskappe wat oor jare heen behoue bly.

Dit is ook danksy tegnologie wat almal met mekaar in kontak hou. Daar word dus met groot afwagting uitgesien na die nasionale o.30 toernooi later vanjaar en wat Noordwes spelers hier kan bereik.

Related Articles

Back to top button