Eerste Cape Epic skofsege vir plaaslike bergfietsmasjien

“Dit was een van my groot drome van jongs af en baie bly ek kon ‘n skof wen."

Die Potchefstroomse bergfietsryer, Pieter du Toit, het vanjaar vir die eerste keer ‘n skof gewen op die uitdagende en wêreldbekende Cape Epic Bergfietswedren vanaf 20-27 Maart in die Kaap. Du Toit, ‘n oud-Volkie, het saam met sy spanmaat by Team Imbuko Type Dev, Marco Joubert, van die top spanne verras met ‘n fantastiese sege op die vyfde skof op Vrydag, 25 Maart.

Hulle het die 115km skof vanaf Greyton na Stellenbosch in 04:04:57 klaargemaak nadat hulle vanaf die peloton op die 70km punt weggebreek het. Hierdie twee Suid-Afrikaners in hulle rooi truie (Afrika-titelwenners) het daardie momentum tot die einde gehou het om met groot glimlagte hierdie groot prestasie te kon behaal.

Marco Joubert en Pieter du Toit vier hulle skofoorwinning tydens die 2022 Cape Epic Bergfietstoer. Foto’s: Verskaf

Du Toit en Joubert het algeheel 8ste geeindig 28:43.04 na sewe skofte waar hulle altesaam 681km afgelê het. Hierdie was ook Du Toit se vierde Cape Epic wat hy voltooi het en met hierdie oorwinning het hy bewys dat hy tussen die groot kanonne sy stempel kan afdruk. “Dit was een van my groot drome van jongs af en baie bly ek kon ‘n skof wen. Die skof was redelik lank en het drie groot klimme gehad (Franschhoekpas). Ek en my spanmaat het goed saamgewerk en onsself in die begin wou spaar en toe die bondel redelik uitgestrek was het ons aangeval so 40 kilometer van die einde af. “Ek het vir Marco gesê dat ons moet gaan vir dit. Ons het ons koppe neergesit en op die einde 2 minute voor die tweede span geëindig. Dit was lekker om op die podium saam met al die internasionale ryers te staan ook.”

Pieter du Toit en Marco Joubert vier hulle 8ste algehele plek in die 2022 Cape Epic Bergfietstoer.

Du Toit noem ook dat hy veral bly is om die Afrika-titel te verower op die Cape Epic. “Dit is baie groot vir ons span om dit te kon regkry,” noem hy. Die Duitsers, Georg Egger en Lukas Baum was die algehele wenners in ‘n tyd van 27:44.06 – ongeveer ‘n uur voor Du Toit-hulle.  

Exit mobile version