NWU nou Adriaan Strauss se MBA-tuiste

“Eerstens is dit ʼn gesogte kwalifikasie. Dit laat jou anders dink, dit verander jou benadering en dit is presies waarvoor ek gesoek het. ʼn MBA gee jou die geleentheid om te leer en te groei."

Hy was die 56ste Springbokkaptein. ʼn Kanniedood werkesels wie se blondekop orals op die veld te bespeur was. ʼn Beweeglike haker met ʼn genoeg wringkrag om ʼn hele rugbyveld vir 80-minute lank om te dolwe.

ʼn Leier.

Met die aanvang van Allister Coetzee se era as Springbokafrigter was daar op Strauss se knoppie gedruk om die nasionale span te lei.

Dit was ʼn besluit wat wyd met lof besing was en hoewel 2016 nie as ʼn spogjaar vir die ‘Bokke onthou word nie, was daar nog nooit ʼn vinger na Strauss gewys nie. Hy het sy internasionale stewels einde 2016 opgehang en sy provinsiale stewels het in 2018 gevolg.

Wenkbroue was gelug want Strauss was alles behalwe ʼn spandeerde krag nie, maar die talismatiese spanman vir beide die Cheetahs en Bulls het ʼn plan gehad. Reeds as speler het Strauss hom by ITEC in Bloemfontein aangesluit waar hy sy tande saam met Valentine Rantsoareng, André Venter en Chris Badenhorst in die besigheidwêreld begin slyp het. Ja, dáárdie Vrystaatse legendes André Venter en Chris Badenhorst.

Eersgenoemde dalk die hardste rugbyspeler wat die Springbokke nóg opgedis het. Laasgenoemde, self ʼn Springbok, ʼn drieëvraat met ʼn onvervulbare aptyt om die doellyn te oorkruis.

“Ek het net aangegaan waar ek opgehou het,” vertel die veteraan van 66 toetse in die Groen-en-Goud. “Eerstens is dit ʼn gesogte kwalifikasie. Dit laat jou anders dink, dit verander jou benadering en dit is presies waarvoor ek gesoek het. ʼn MBA gee jou die geleentheid om te leer en te groei. Ek geniet die finansiële aspek van my werk en ek wil graag beter besluite in daardie rigting neem. Tweedens is daar die Noordwes-Universiteit, sy reputasie en die feit dat die MBA internasionaal geakkrediteer is.”

Dink hy sy tyd in rugby se loopgrawe gaan hom in die besigheidswêreld help? “Daar is lesse wat mens op die rugbyveld leer, maar elke besigheid is anders en vereis ander bestuurstyle- en tegnieke.”

Strauss is nou eers 36, tog is ʼn terugkeer tot die veld buite die kwessie.

“Ek mis partykeer die spel. Ek mis dit om tussen die ouens te wees. Maar, ek het my tyd gehad en as ek more die geleentheid kry om weer te speel, sal ek definitief nie,” skerts hy.

Dan is daar ook die teenstanders, towenaars en hansworse. “Ek het altyd baie respek vir Richie McCaw as speler en kaptein gehad en vir die manie hoe hy homself gedra het. Bakkies Botha, Victor Matfield, Schalk Burger en Jean de Villiers was van die taaiste ouens teen wie ek gespeel het. Ek gaan eendag vir my kinders kan sê ek het teen ʼn regte paar hardebaarde gespeel. Jean was ook een van die snaakste ouens en vol streke, hoewel hy baie rustiger geword het toe hy Springbokkaptein was. By die Cheetahs was Heinrich Brüssow en Lood de Jager die narre.”

Wat van die talentvolste spelers betref noem hy ook ene Lood de Jager wat vir sy spelpeil op- en streke van die veld af welbekend by die NWU was en Willie le Roux.

Wys jou nou net.

Bertie Jacobs

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version