NWU atlete deel hul blydskap oor Olimpiese Spele geleentheid

My doel is om dit te gaan geniet en dit sal ‘n voorreg wees om my land te verteenwoordig. Om met die goud terug te kom, sal wonderlik wees,”

Die NWU sal vanjaar by die 2020 Tokio Olimpiese Spele vanaf 23 Julie tot 8 Augustus ‘n sterk teenwoordigheid van top plaaslike atlete hê wat Suid-Afrika se vlag trots sal wil wapper.

Die spiesgooier, Jo-Ané van Dyk, Chederick van Wyk (4×100 m-aflos), Zakithi Nene (400 m) en Pieter Conradie (albei 4×400 m-aflos) sal almal die SA vlag hoog in Tokio laat wapper.

Van Dyk, Conradie en Van Wyk is almal ongelooflik opgewonde oor die geleentheid wat voorlê om aan die wêreld se grootste sportbyeenkoms deel te neem.

hederick van Wyk gaan SA ook by die Olimpiese Spele in Tokio in die 4X100 m aflos verteenwoordig. Foto: Asem Engage

“Dit was net trane van vreugde toe ek gehoor het dat ek Olimpiese Spele toe gaan. Ek het dadelik vir die liewe Here dankie gesê vir die talent wat hy my gegee het. My doel is om dit te gaan geniet en dit sal ‘n voorreg wees om my land te verteenwoordig. Om met die goud terug te kom, sal wonderlik wees,” sê Van Wyk.

“Dit is ‘n groot voorreg en iets waarvoor jy jou hele lewe lank oefen. Ek was ongelooflik bly en dit is iets wat ek nog nie heeltemal verwerk het nie,” noem Conradie. “Ek kon dit nie glo nie. Ek het geweet ek is in die top 32, maar het nie geweet of hulle my in die span sal insluit nie,” beaam Van Dyk.

Jo-Ane van Dyk is op pad na die Olimpiese Spele in Tokio. Foto: Verskaf

Sy noem ook dat die Olimpiese Spele kwalifisering haar grootste atletiekprestasie is en dat sy graag binne die top 10 in die finaal wil eindig. “Ek glo ek is tot dusver in die beste vorm van my lewe.

Ek is bly dat ek nou vir drie weke na Suid-Afrika kon terugkeer sodat ek en my afrigter my tegniek net so ‘n bietjie kan opskerp voor die spele,” vertel Van Dyk.

Sy het die afgelope paar weke top prestasies en ‘n persoonlike beste afstand van 61.19 meter in Europa behaal.

Pieter Conradie van die NWU gaan die SA span in 4x400m aflos by die Tokio Olimpiese Spele verteenwoordig. Foto: Wouter Pienaar

Conradie is ook vol vertroue dat hy ‘n medalje na Suid-Afrika kan terugbring. “Ek oefen hard en wil op my beste vorm wees vir die Olimpiese Spele en ek glo ons 4×400 span is goed genoeg om ‘n medalje terug te bring.”

Exit mobile version