Griffons-toets vir Luiperds

‘n Wen is noodsaaklik vir die Luiperds om die Griffons in te haal en die boonste plek op die punteleer na die groepsfase te probeer beklee.

Die Luiperds sal hierdie Saterdag, 17 Julie, hulle grootste toets nog in vanjaar se Curriebeker Eersteliga moet slaag wanneer hulle teen die onoorwonne Griffons op Olënpark te staan kom.

Die Luiperds het vanjaar twee oorwinnings en een nederlaag agter die rug en is tans in die tweede plek op die punteleer met 11 punte.

Die Griffons het een meer wedstryd gespeel en is tans voor in die koor op 19 punte. ‘n Wen is noodsaaklik vir die Luiperds om die Griffons in te haal en die boonste plek op die punteleer na die groepsfase te probeer beklee.

Luiperds haker, Robey Leibrandt, het vanjaar ‘n skitterende seisoen en sal wil voortbou teen die Griffons hierdie Saterdag. Foto: Mario van de Wall

‘n Top twee plek op die punteleer sal ook beteken dat die Luiperds ‘n tuis halfeindstryd sal kry wat later voordelig sal wees.

As ‘n mens na die geskiedenisboeke van die afgelope vyf jaar kyk, is die Griffons die span wat die Potchefstromers die meeste moeilikheid gee.

Die Luiperds se enigste oorwinning teen die Griffons in hierdie tydperk was in 2018 toe hulle met 38-35 in Welkom gewen het. In 2016 verloor die Luiperds die Eersteligafinaal met 25-44. In 2017 verloor die Luiperds met 22-28 in Klerksdorp en met 17-33 op Olënpark. In die 2017 Curriebeker Eersteligafinaal verloor die Luiperds met 60-36 in die eindstryd in Welkom. In 2018 verloor die Luiperds met 21-47 in Schweizer-Reneke en in 2019 is dit dieselfde storie met ‘n 28-47 loesing.

Nietemin sal die Luiperds graag nuwe geskiedenis in hierdie dekade wil skryf en met ‘n oorwinning hierdie naweek begin. Onderkaptein en agtsteman, André Fouché is gereed vir die kragmeting veral omdat die span ‘n ekstra naweek kon rus.

“Ons is baie opgewonde vir ons eerste tuiswedstryd hierdie naweek teen die Griffons. Ons sien uit om teen die boonste span krag teen krag te toets en bo uit te kom.”

Die Luiperds se hoofafrigter, André Pretorius, beklemtoon ook dat sy span meer as gereed vir die Griffons is en weet wat hulle moet doen om te wen.  

“Ons weet hulle voorspelers is ‘n groot sterk punt met hulle dryfmaal en skrums. Hulle skoppe was ook verbasend goed gewees sowel as die lyne wat opgevolg het. Ons gaan ons man moet staan in die vaste fasette en ons geleenthede moet gebruik. Ons gaan ook moet klinies wees met ons aanvallende spel om die bal te hou en ook op verdediging sterk wees. 

“Ons plan is in plek en dit moet net geimplimenteer word. Die ouens sien baie uit na Saterdag. Dit is ‘n groot geleentheid vir ons span,” sluit Pretorius af. 

Exit mobile version