SportSport

Medaljekoors by SA kampioenskappe

Algeheel eindig Atletiek Sentraal Noordwes in die vyfde posisie met 31 medaljes wat 9 goud, 13 silwer en 9 bronsmedaljes insluit.

Plaaslike atlete van Atletiek Sentraal Noordwes het die afgelope naweek, 7 tot 10 April by Atletiek Suid-Afrika se o.16-o.20 baan en veld kampioenskappe in die Paarl by die Dal Josaphat-stadion geskitter.

Armand Willemse het ‘n goue medalje in die seuns o.18 spiesgooi behaal.

Algeheel eindig Atletiek Sentraal Noordwes in die vyfde posisie met 31 medaljes wat 9 goud, 13 silwer en 9 bronsmedaljes insluit. Atletiek Gauteng Noord eindig bo met 112 medaljes. Een van die grootste sterre vir ACNW was sonder twyfel die SA kampioenstapper en Volkskool leerder, Janise Nell, wat ‘n puik tweede plek in die dogters o.20, 10 km stap-item behaal het. Nell (wat as ‘n o.18 atleet deelgeneem het) het die vorige SA rekord wat Liza Jacobs in Bellville in 2002 opgestel het, met sowat 7 minute verbeter.

Janise Nell het ‘n nuwe SA rekord vir dogters o.18 10km stap opgestel. Foto: Cobus Groenewald

Nell het die wedloop onder 50 minute in ‘n briljante tyd van 49:42.48 voltooi. Sodoende is sy die jongste atleet in SA atletiekgeskiedenis wat die 10km wedloop onder 50 minute voltooi. Al het Nell nie in die o.18 wedloop deelgeneem het nie, tel haar rekord steeds, aangesien sy nog o.18 is. Nell het juis aan die o.20 wedloop deelgeneem sodat sy vir die o.20 Atletiek Wêreldkampioenskappe kon kwalifiseer. Sy het die kwalifiserende tyd van 50:30 gemaklik behaal en haar plek na die o.20 Wêreldkampioenskappe bespreek wat vanjaar vanaf 17-22 Augustus in Kenia gehou word.

Haar ACNW spanmaat, Marissa Swanepoel, het goud in dieselfde wedloop verower. Ander stappers wat uitgeblink het was Volkies se Marizel Meintjies (goud in 5 000 meter stap vir o.18), sowel as Petrus van Aarde (silwer vir o.20 10 000 meter stap).

Phethisang Makhethe

Nog ‘n rekordbreker was Phethisang Makhethe, wat in die dogters o.20 hamergooi item ‘n nuwe SA junior-rekord opgestel het. 

Makhethe, die jonger sussie van SA hamergooi kampioen, Tshepang Makhethe, het ‘n skitterende gooi van 57.35 meter gegooi om goud te vat. ‘

Daar was groot opgewondenheid en afwagting dat beide Karmen Fouché (hoogspring en verspring, dogters o.20) en Armand Willemse (seuns o.18 spiesgooi) met goud sou wegloop.

Albei atlete het nie teleurgestel nie en is nou nuwe SA kampioene in hulle onderskeie ouderdomsgroepe. Fouché het in die dogters o.20 hoogspring met ‘n sprong van 1.80 meter gewen en ook in die verspring met ‘n afstand van 6.13 meter goud gevat.

Willemse het sy talent ten toon gestel met ‘n puik gooi van 73.08 meter, sowat sewe meter verder as sy naaste teenstanders.

Ander plaaslike medaljewenners van Potchefstroom Gimnasium sluit in:

Amé Keyser (brons: dogters spiesgooi o.16 – 43.78 meter)

Sandri van Rooyen (brons: dogters 100m o.16 -12.40)

Lee-Ann Grobbelaar (silwer: dogters spiesgooi o.18 – 48.11 meter)

Jamoré Olivier (brons: dogters gewigstoot o.16 – 14.78 meter)

Phemelo Molale (silwer: seuns o.18 4x100m aflos – 42.39)

Peter Hendriks (silwer: seuns o.18 4x100m aflos – 42.39)

Jeané Visser (brons: dogters hoogspring o.20 – 1.70 meter)

Danielle Verster (silwer: dogters 1 500 meter o.20 – 04:24.99)

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button