NWU klop Madibaz in driefees

Fisieke hardlooprugby was aan die orde van die dag vir die NWU, maar onnodige foute en gebrek aan kliniese afronding het die telling vir die eerste 60 minute naby gehou.

Die NWU het hul 2021 Varsitybekerveldtog met ‘n hardwerkende 47-28 oorwinning teen die NMU Madibaz in Pretoria vanmiddag afgeskop.

Sewe drieë het die wen vir André Pretorius se manne in pers beklink met die speler van die wedstryd, NWU haker, Gustav du Rand, wat twee drieë ingepalm het. Fisieke hardlooprugby was aan die orde van die dag vir die NWU, maar onnodige foute en gebrek aan kliniese afronding het die telling vir die eerste 60 minute naby gehou.

Die NWU het in die eerste 5 minute goed begin met veral hulle voorry van Ruben du Plessis, Gustav du Rand en Botter Moloto wat puik geskrum het en die eerste strafskop vir die NWU gegee het. NWU losskakel, Marco Donges het wel die strafskop verbrou. Die manne van Port Elizabeth het eerste punte op die telbord gesit toe regtervleuel, Khakalethu Bophi, in die hoek oorduik om die telling 5-0 te maak.

Die NWU het die meerderheid balbesit in die eerste 10 minute gehad maar kon nie iets vir hulle volgehoue druk wys nie, met die Madibaz wat dit moeilik by die breekpunte gemaak het. Die NWU het aangehou boer op die Madibaz se doellyn en uiteindelik deurgebreek toe die binnesenter, Conan le Fleur, die Potchefstromers se eerste drie druk. Donges verdoel en die NWU loop met 7-5 voor na 20 minute.

Die NWU het hulle voorsprong verhoog na ‘n puik stukkie lynstaanwerk waar haker Gustav du Rand, die lynstaanbal teruggekry het na die ingooi en langs die kantlyn vir Bophi afgestamp en gaan druk het. Die glimlag op Du Rand se gesig was tekenend van ‘n voorafbeplande beweging wat soos stroop geloop het.

Sake het nog beter vir die NWU geraak toe Pienaar van Niekerk sy span se derde drie van die dag druk na ‘n flink stukkie dinkwerk van Donges. ‘n Kruisskop het die Madibaz verdediging totaal en al onkant betrap en Van Niekerk kon die bal uit die lug opraap en oor die doellyn vlieg vir ‘n welverdiende 5 punte. Die NWU was definitief die gelukkiger span met ‘n 19-11 half-tyd voorsprong teen die Madibaz.

Foto’s: Christiaan en Catherine Kotze

Die tweede helfte het weer puik vir die Madibaz begin toe die flank Arnouw Nel na ‘n 5-meter skrum oorduik om die telling na 19-16 te vernou. Die NWU se eie hanteerfoute was in hierdie geval hulle grootste vyand. So ook die lynskoppe wat nie uitgeskop word nie.

Die Madibaz se losskakel, Tiaan Schutte het ook ‘n puik wedstryd gehad en met sy taktiese besluite en goeie skopwerk die NWU op hul tone gehou. Die NWU het ook in die tweede helfte ‘n paar kanse verbrou om punte op die telbord te sit wanneer hulle drie punte kon vat, maar eerder kantlyn toe geskop het en nie die geleentheid gebruik het nie. Die rolmaalbeweging-taktiek het uiteindelik gewerk toe Gustav du Rand in die 58ste minuut vir die NWU se vierde en sy tweede drie oorduik.

Keagan Foutune verdoel en die telling is 26-16 in die NWU se guns met 20 minute speeltyd oor. Die NMU kaptein, Luyolo Dapula, is na die kort pouse oor vir die Madibaz se derde drie om die telling na 26-21 te bring en die senuwees weer op te jaag.

Drie drieë in die laaste 12 minute danksy plaasvervangers, Ruben Dreyer, Meyer Kriel en Riaan Genis het die wen vir die NWU verseker.

Punte: NWU 47 (19) Driee: Conan le Fleur, Gustav du Rand (2), Pienaar van Niekerk, Ruben Dreyer Meyer Kriel en Riaan Genis.

Doelskoppe: Marco Donges, Conan le Fleur, Keagan Fortune (3)

NMU-Madibaz: 28 (11)

Driee: Khakalethu Bophi, Arnouw Nel, Luyolo Dapula, Kholiwe Konza

Doelskoppe: Tiaan Schutte

Strafskoppe: Tiaan Schutte (2)

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version