SportSport

Voormalige NWU kaptein in Proteas T20-groep ingesluit

Ek het nie al die balle geslaan om net te sit en wonder nie – dit is vir my ‘n baie belangrike aspek om dit voluit te geniet.”

Die voormalige NWU Varsity Krieketkaptein, Wihan Lubbe, se Proteas-droom het die afgelope week waar geword toe hy in die Proteas se T20-groep teen Pakistan ingesluit is.

Lubbe het bekendheid in Potchefstroom verwerf nadat hy as kaptein die 2017 Varsity Kriekettrofee sowel as die Red Bull Studente Wêreldbeker T20 toernooi in Sri Lanka verower het.

Hy het ook talle wedstryde vir die NW Dragons en Highveld Lions gespeel voordat hy in 2020 by die Warriors in Port Elizabeth aangesluit het. Lubbe was verheug toe hy die nuus van sy insluiting hoor – dit is veral so omdat hy jare se harde werk ingesit het en daar uiteindelik ‘n deur oopgegaan het.

“My eerste reaksie was redelik emosioneel en ek het baie amper trane in my oë gekry. Dit is maar ‘n klomp emosies wat deur ‘n mens se kop gaan. Daar is baie tyd en werk ingesit om juis hierdie doel te bereik. Dit is ‘n teken dat mens in die regte rigting op pad is.

Om die oomblik met my pa te kon deel was ook baie spesiaal,” vertel die voormalige Klerksdorp Hoër (KHS) leerder. Lubbe floreer al vir jare op plaaslike vlak en sy enigste T20 honderdtal van 33 balle vir Noordwes teen Limpopo in 2018 is ook die derde vinnigste in geskiedenis.

Wihan Lubbe (Warriors) gedurende die afgelope Momentum Eendagbeker wat in Potchefstroom plaasgevind het. Photo: Wouter Pienaar

Sy bestendige vorm vir die Warriors met beide kolf en bal was genoeg om vir hom ‘n plek in die Proteas-groep te besorg. Hy voel wel dat prestasies saam die Warriors direk na meer geleenthede op nasionale vlak ook sal lei.

“Ek dink in ons eie opinie was die seisoen maar gemiddeld gewees. Ons het baie minder bereik as wat ons graag sou wou. Ek wil graag die Warriors help om in die toekoms beter te kan doen in al drie formate. Ons het geleenthede gehad om beter te doen. Hoe groter my bydrae op die veld is hoe beter is die kans dat ek vir die Proteas gekies word,” verduidelik Lubbe.

Hy weet ook dat hy dalk nie speelkans kan kry nie, maar vir hom gaan dit oor die geleentheid om saam met die land se beste spelers koppe bymekaar te sit en soveel as moontlik te leer.

“Ek gaan met ‘n baie oop kop in die Bio-Borrel in en wil so veel as moontlik leer en groei as ‘n krieketspeler. As ‘n mens speelkans kry, is dit fantasties. Ek is opgewonde om te sien hoe die Proteas die wedstryde benader. Dit is my hoofplan en doelwit om dit te gaan geniet. Dit is iets wat ‘n mens al jare voor werk en ek het nie al die balle geslaan om net te sit en wonder nie – dit is vir my ‘n baie belangrike aspek om dit voluit te geniet.”

Lubbe sal by die Proteas-groep in Pretoria op Saterdag, 27 Maart aansluit. Vier internasionale T20 wedstryde teen Pakistan sal in Johannesburg en Pretoria vanaf 10-16 April plaasvind.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button