SportSport

Ontmoet ‘n rugbyspan se inligtingsentrum

Michael Thorne en Gerald McPherson is twee mense wat weet wat verg om 'n top spanbestuurder te wees

Spanbestuurders is die gom wat rugbyspanne aanmekaar heg, die enjin wat sake by spelers en afrigters aan die loop hou en die man met een van die stresvolste, maar tog belangrikste take in ‘n professionele rugbyspan. ‘n Goeie spanbestuurder word nie altyd raakgesien as hy sy werk 100 persent uitvoer nie, maar word dadelik gemis as dinge nie in plek val nie.

Twee bekende gesigte by die Luiperds Rugbyunie, Michael Thorne (huidige Luiperds o.20 spanbestuurder) en Gerald McPherson (voormalige spanbestuurder by Luiperds vanaf 2005-2007 en tans betrokke as afrigter by die Luiperds), weet wat dit verg om ‘n spanbestuurder te wees en draai nie doekies om oor die belangrikheid van hierdie posisie in ‘n suksesvolle span nie.

“’n Goeie spanbestuurder is die inligtingsentrum van die span. As ‘n mens iets wil weet moet die spanbestuurder ‘n antwoord hê. Betrokke, ingelig en betroubaar is eienskappe van ‘n goeie spanbestuurder,” vertel McPherson. “As spanbestuurder speel ‘n mens baie keer die rol van vaderfiguur en is die tussenganger tussen spelers en die afrigter. Dit is belangrik om vertroue te skep en ook eerlik met die spelers te wees,” noem Thorne, wat as spanbestuurder met spelers soos Lood de Jager, Rhyno Smith en Walt Steenkamp by die Luiperds gewerk het.

Thorne en McPherson gebruik albei die voorbeeld van die legendariese Blou Bulle spanbestuurder, Wynie Strydom, as iemand wat die rol vervolmaak het.

“Die sukses van die Blou Bulle in sy tydperk as spanbestuurder daar is ongeëwenaard. Hy leer ‘n mens dat ‘n spanbestuurder eintlik so belangrik is as skakel tussen spelers, afrigters, mediese personeel en die media,” noem McPherson.

Volgens Thorne sal hy as spanbestuurder gewoonlik saam met afrigters deur die week se program gaan en seker maak dat alles voor en tydens oefeninge seepglad verloop.

“Ek moet weet hoe lyk elke speler se program en byvoorbeeld wat hulle nodig het tydens oefening. Op ‘n wedstryddag moet ek seker maak dat elke speler se oefen en wedstryddrag gereed is, dat hulle etes voorsien is ensovoorts. Tydens die wedstryd is ek ook die skakel op die veld vir die afrigter en kommunikeer oor besluite soos spelerveranderinge en taktiese besluite,” verduidelik hy.

McPherson noem ook dat sy drie jaar lange werk as spanbestuurder by die Luiperds seniorspan hom baie geleer het en hy besef het watter yslike taak dit is. “Toe ek aangestel is het ek en Jacques Swanepoel (destydse Luiperdsafrigter) van die begin af goed saamgewerk en mekaar vertrou. Hy kon net op afrigting fokus en nie oor ander goed buite sy raamwerk stres nie. Ek moes seker maak dat alles foutloos verloop. Toe het die Luiperds teen die top spanne in die Curriebeker en Vodacom Cup gespeel,” noem hy.

Juis omdat die Luiperds teen die groot honde gekompeteer het, moes McPherson seker maak dat die span se blaf nie groter as hul byt is nie – iets wat met puik voorbereiding en beplanning geïmplementeer moes word. “’n Mens moet kyk na jou toerusting en of al die spanname met hulle nommers ooreenstem vir die program. Veral in wegwedstryde is dit belangrik om die vlugte of busroetes te bespreek, seker te maak dat spelers blyplek het en so meer. Belangrikste is om altyd ‘n plan B te hê, want jy wil die stres onder die spelers en die afrigter vermy. Hulle het genoeg bekommernisse op die veld om nog te wonder of hul betyds by die stadion sal wees,” verduidelik McPherson, prontuit.

Iets waaraan ‘n mens nie altyd dink nie, is dat ‘n span ook net so goed is soos die spaneenheid waarin ‘n span funksioneer. “’n Spanbestuurder moet weet wie maats is en wie kom goed oor die weg. Dit is veral so in wegwedstryde wanneer spelers kamers deel. ‘n Mens moet seker maak dat spelers gemaklik en gelukkig is, maar steeds jou besluite respekteer. Jy speel meer die rol van ‘n vader as ‘n vriend,” vertel McPherson.

“Beplanning en noukeurigheid sowel as goeie kommunikasie met die spelers is belangrik. Dit is waarom dit ook nodig is om braaie of spanboubyeenkomste te reël sodat spelers mekaar kan leer ken. Hoe beter spanhegtheid is, hoe beter gaan hulle op die veld saamwerk,” meen Thorne.

As ‘n mens weer ‘n rugbywedstryd kyk met die spelers wat sukses na 80 minute proe en ‘n heldeontvangs kry, kan daar verseker ‘n glasie gelig word na die spanbestuurder – die person wat heel eerste die veld betree en heel laaste die veld verlaat.

Related Articles

Back to top button