Potch gholfspeler behaal ‘n puik tweede plek by Gauteng Noord-Ope

Burke, ‘n voormalige Volkie, het ‘n welverdiende tweede plek met ‘n telling van -12 (276) behaal.

Die Potchefstroomse gholfspeler, Christiaan Burke, het die afgelope naweek, 22-24 Januarie by die Gauteng Noord-Ope in Pretoria bewys waarom hy tans onder die top 10 amateurgholfspelers in die land is. Burke, ‘n voormalige Volkie, het ‘n welverdiende tweede plek met ‘n telling van -12 (276) behaal.

Hy het ‘n uitstekende tweede rondte beleef toe hy 64 gespeel het en met vyf houe voorgeloop het, maar het in die latere rondtes meer gesukkel. Die algehele wenner, Christiaan Maas, het die tuistoestande goed benut om die toernooi met -17 (271) te wen. Burke was steeds in sy noppies oor die toernooi, al kon hy nie die trofee lig nie.

“Ek het goed begin met ‘n 68 in die eerste rondte. In die tweede ronde het ek ‘n 64 gespeel en het toe voorgeloop in die toernooi.

“Die laaste dag het ons 36 gate gespeel. Ek het toe 70 gespeel en steeds met een hou voorgeloop. Die laaste rondte het ek ‘n bietjie gesukkel met die weer wat moeilik was, maar ek het baie daaruit geleer,” verduidelik Burke.

Dié 20-jarige kan trots wees op sy uitslae, aangesien hy saam met die top 15 amateur spelers in die land deelgeneem het en sy kop kon hoog hou.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version