Franco van der Merwe: Die hardwerkende rugbyhartklop van Hartswater

Van der Merwe het ‘n interessante professionele rugbygeskiedenis wat sowat 16 jaar strek – van sy begin as speler vir die Puk en die Luiperds sowel as sy gloriedae by die Leeus waar hy die Johannesburgse span na die 2011 Curriebeker gelei het.

Vir die algemene rugbypubliek sal Franco van der Merwe, die voormalige Luiperds, Leeus en Springbok slot en flank, as een van die hardwerkendste en mees onderskatte rugbyspelers onthou word. Van der Merwe het ‘n interessante professionele rugbygeskiedenis wat sowat 16 jaar strek – van sy begin as speler vir die Puk en die Luiperds sowel as sy gloriedae by die Leeus waar hy die Johannesburgse span na die 2011 Curriebeker gelei het. Verder het hy ook in die buiteland naam gemaak by Ulster in Ierland, sowel as London Irish in Engeland voordat hy in 2020 amptelik sy stewels opgehang het.

Franco van der Merwe in aksie vir Luiperds in 2005. Foto: Mario van de Wall

Vanweë sy min beserings kon hy sy rakleeftyd strek tot op die ouderdom van 37 – ‘n spieëlbeeld van sy puik kondisionering en liefde vir die spel. Alles rugbygewys het dié slot by Laerskool Hartswater en Hoërskool Hartswater geleer waar sy pa, Nico van der Merwe, een van sy groot mentors was. Hy noem ook dat Visser Bezuidenhout en Kosie Smit ook ‘n groot rol in sy rugbyontwikkeling in daardie streek gespeel het.

Franco van der Merwe saam met sy vrou Martha-Mari en kinders Christiaan en Isabella. Foto: Verskaf

Van der Merwe was nog nat agter die ore toe hy sy eerste wedstryde vir die Pukke onder leiding van Jacques Swanepoel gespeel het. Hy onthou hoe Duitser Bosman hom destyds by die destydse Puk Rugbyinstituut betrokke gekry het. Hy het die vorige paar jaar juis goeie skolerugby gespeel en vir Griekwas in die Cravenweek in Gr. 11 en 12 verteenwoordig.

“Duitser, Attie Strauss en prof. Manie Spamer was groot rolspelers toe ek net in Potch gekom het. Jacques Swanepoel het as afrigter by die Puk ook ‘n groot rol in die professionele omgewing gespeel en dit het ‘n groot invloed op my loopbaan vir die toekoms gehad. Dieselfde ook so met Chaka Willemse wat ook sterk bande met die spelers gekweek het,” vertel hy.

Van der Merwe kyk met heimwee terug na sy drie jaar by die Luiperds seniorspan vanaf 2004-2006, waar hy eerste sy stempel teen die groot name in SA rugby kon druk. Hierdie kranige voorspeler het 58 wedstryde vir die Luiperds gespeel en 8 drieë ingepalm in daardie tydperk.

“Een van die beste wedstryde vir my in ‘n Luiperdstrui was teen die Blou Bulle in die 2005 Vodacombeker semi-finaal op Loftus, waar ons ‘n sterk Bul-span geklop het. Ons het wel die eindstryd daardie jaar teen die Griekwas met 25-27 verloor,” onthou hy.

Dit is ook van die veld af waar Van der Merwe in sy tyd by die Luiperds goeie vriende gemaak het. “Ek het steeds kontak met die sportsielkundige, prof. Pieter Kruger. Ek het hom in my tyd by die Luiperds ontmoet en toe hy jare later in Munster was, het ons mekaar raakgeloop en is steeds goeie vriende. Hy het my baie advies in my loopbaan gegee, veral in moeiliker tye,” noem hy.

Vir Van der Merwe is dit ook ‘n geval om in die regte plek op die regte tyd te wees – ‘n tema wat deurlopend in sy loopbaan figureer. “Ek het my kans by die Leeus gekry danksy Leon Boshoff (ook ‘n oud-Luiperdspeler) wat toe by die Leeus afgerig het. Hy het genoem dat hulle voorspelers nodig het en ek is toe na die Leeus opgetrek waar ek sewe jaar was,” vertel hy.

Franco van der Merwe in sy tyd as speler en kaptein by London Irish.

Sy tyd by die Leeus, wat oor die 100 wedstryde strek, sluit ook vele op en afdraandes in – van maer jare sonder bekers tot die 2011 Curriebekeroorwinning as kaptein en die gepaardgaande relegasie uit Superrugby in 2013. Tog sal hy sy tyd in rooi en wit nie verruil vir enige iets nie.

“By die Leeus het ons as ‘n span deur ‘n paar wilde tye gegaan. Ek onthou spesifiek ons 2007 Curriebekerfinaal teen die Cheetahs wat ons verloor het. In 2007 het ons ook ‘n baie hegte span gehad. “In 2011 het John Mitchell (afrigter) ‘n groot rol gespeel om ons span se professionalisme op te skerp. So ook het ek groot respek vir Johan Ackermann wat ‘n baie goeie persoonlike band met sy spelers gehad het. 2011 was definitief my beste jaar in ‘n Leeustrui,” beaam hy.

Van der Merwe is in 2013 Sharks toe om Superrugby te gaan speel en dit het vrugte afgewerp toe hy dieselfde jaar op 30-jarige ouderdom toe ook sy langverwagte Spingbokdebuut op Ellispark teen die All Blacks gemaak het. “Dit was ‘n belewenis en ‘n groot hoogtepunt. Ek skuld nou nog vir Flip van der Merwe, wat daardie week beseer is, sodat ek ‘n kans in die span kon kry,” vertel hy grappend. Die beweegrede waarom Van der Merwe net een toets agter sy blad het, is dat hy teen daardie tyd nie meer in die Bokke se toekomsplanne was nie. Jonger ouens soos Pieter Steph du Toit het in die prentjie gekom en Van der Merwe het gevoel dat hy nou die ideale geleentheid het om ‘n smakie vir Noordelike halfrond rugby te proe terwyl hy nog fiks en gemotiveerd genoeg is. “Ek het ongelooflik baie geleer in my tyd by Ulster en London Irish. Die oorspronklike plan was om net vier jaar te gaan, maar ek het toe baie langer gebly voor ek verlede jaar my loopbaan afgesluit het,” noem hy. Nou het Van der Merwe ‘n nuwe uitdaging buiten rugby wat hom besig hou, met die dat hy tans op ‘n plaas op Hartswater boer.

“Ek het twee jaar gelede grond hier gekoop en nou dat ek terug in Suid-Afrika is, is dit ‘n lekker uitdaging om ‘n lewe met die boerdery te maak. Ek boer hoofsaaklik met pekanneute, lusern en beeste. “Dit is ook lekker vir my drie- en vierjarige kinders om hier in die platteland met al die spasie groot te word.”

Van der Merwe plant nou saad vir die toekoms daar waar hy die eerste keer sy loopbaan op Hartswater begin het. ‘n Kringloop van dankbaarheid vir wat rugby as ‘n suksesvolle opbrengs hom vir 31 jaar van sy lewe voorsien het.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version