Skole en klubrugby vir eers op die agtersitplek

Die vraag is ook hoe die huidige Covid-19 regulasies skolerugby en die belangstelling in rugby verlaag?

Die kans is goed dat skole en amateurrugby in Suid-Afrika weens die Covid-19 pandemie en die sogenaamde tweede golf van dié virus eers in die tweede kwartaal van die jaar sal voortgaan. Volgens ‘n berig in Rapport (10 Januarie) sal dit moeilik wees vir skole en amateurrugby om in die huidige vlak 3-omstandighede voort te gaan aangesien dit te duur sal wees om al die Covid-19 saniteringsmaatreels en Covid-19 toetse vir spelers te laat doen. Daar word berig dat rugby eers in Junie weer op die been sal kom.

Volgens Rapport sal SA Rugby amptelik hierdie besluit vandeesweek afkondig. Eugene Fourie, hoof uitvoerende beampte, van die Luiperds Rugbyunie, het aan die Herald bevestig dat daar Maandag oor amateurrugby vergader is, maar dat daar nog nie ‘n definitiewe besluit geneem is nie.

Die kans is wel goed dat daar nie rugby in die eerste kwartaal van die jaar gespeel sal word nie. Dit is gewis ‘n feit dat finansies ‘n problem sal wees, maar ook om skolewedstryde sonder toeskouers te speel, sal ook ‘n tammeletjie wees.

Hoe kom kinders by wedstryde uit sonder ouers wat hulle neem en terugbring huis toe? Sal ouers verstaan as hul nie hulle kinders se sportwedstryde kan ondersteun nie?

Die vraag is ook hoe die huidige Covid-19 regulasies skolerugby en die belangstelling in rugby verlaag. Skoolkinders kan maklik motivering verloor omdat daar nie rugby gespeel word nie en hulle kanse om professioneel te speel ook moeiliker maak. Unies het nou minder geleentheid om na opkomende spelers te kyk en sonder die Cravenweek en ander groot rugbyfeeste gaan dit moeilik wees vir die huidige o.18 groep om werklik hulle staal te wys.

Die laaste skolerugbywedstryde is op 14 Maart 2020 gespeel en soos sake tans lyk mag dit nog ‘n paar maande duur voordat skolerugby onder streng maatreels sal voortgaan.

Die staking van amateurrugby is ook ‘n groot knou vir rugbyklubs in Noordwes. Klubrugby is alreeds in ‘n moeilike finansiele posisie en die afstel van rugby tot Junie sal dit nog moeiliker maak vir klubrugby om van krag tot krag te gaan.

Hoeveel klubspelers het nie alreeds hulle stewels gebere in die lig van die pandemie nie? Die vraag is, hoekom ‘n klubspeler moeite moet insit in ‘n sport wat vir die volgende ses maande nie in SA gespeel gaan word nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version