Jansen is eerste Potch Gimmie in Proteas se toetsspan

"Sy nederigheid en geloof is een van sy grootste eienskappe wat hom tot sy droom toe gelei het."

Die voormalige Gimmie-krieketkaptein en linkerarm snelbouler, Marco Jansen (20), se pad na sy eerste wedstryd vir die Proteas is blinker nadat hy vandag vir Suid-Afrika se toetsgroep na Pakistan gekies is.

Jansen is die eerste krieketspeler van Potchefstroom Gimnasium wat die Proteas se toets toergroep haal. Jansen is vandag (Vrydag, 15 Januarie) opgeroep as ‘n vervanging vir Ottniel Baartman, wie die toer weens mediese redes nie kan meemaak nie.

As Jansen speelkans kry sal hy met sy linkerarmswaai en akkurate boulwerk ‘n groot kopseer vir die Pakistanis wees. Jansen is vanjaar ook tweede op die ranglys vir meeste paaltjies in die plaaslike 4-dag Franchisereeks vir die Warriors. Jansen het 12 eersterangsewedstryde agter sy rug en alreeds ‘n indrukwekkende boulgemiddeld van 20.51 met 53 paaljies en beste syfers van 5/53.

Volgens sy voormalige afrigter by Gimmies, Wian Lubbe, het al Jansen se harde werk en geloof in sy drome vrugte gewerp.

“Ek is nogal emosioneel  want ek weet hoe hard hy sy hele lewe lank gewerk het vir die oomblik. Sal nooit vergeet nie, op ons opedag in 2018 het hy Elriesa Theunissen se Proteashemp wat sy by die vrouewêreldbeker gedra het in sy hande vasgehou saam met sy broer, Duan, en nog gesê ‘wow dis ‘n mooi hemp hoop ek kan eendag so hemp aantrek.’ Nou het daardie droom waar geword,” vertel Lubbe.

“Sy nederigheid en geloof is een van sy grootste eienskappe wat hom tot sy droom toe gelei het. Ek het geen twyfel dat hy dadelik saam die span gaan inpas nie. Hy het saam meeste van hulle alreeds vir die SA A span in Indië gespeel. Ons skool saam met al ons ouers is ongelooflik trots op die oud Gimmie wat alreeds op 20-jarige ouderdom soveel kinders in ons skool hoop gegee het om eendag ook suksesvolle krieketspelers te word,” noem Lubbe.

Die Proteas sal op 16 Januarie in Karachi arriveer en ‘n kwarantynperiode ondergaan voor die eerste toets in dieselfde stad vanaf 26-30 Januarie gespeel word. Die tweede toets sal van 4 tot 8 Februarie in Rawalpindi gespeel  word met drie T20-wedstryde wat in Lahore op 11, 13 en 14 Februarie sal plaasvind.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version