Duan Jansen maak sy merk in Franchise-debuut

Sake het nog beter vir Duan in die tweede beurt geword toe hy vir Van der Dussen vir 14 uitgeboul het.

2020 blyk op ‘n baie goeie noot vir die Jansen-tweeling te eindig, met Duan wat hierdie week sy Franchise-krieket debuut vir die Knights in Bloemfontein teen die Lions gemaak het.

Sy broer, Marco, is alreeds een van die top boulers in vanjaar se vierdag kompetisie en nou kry Duan, ‘n oud-Gimmie uiteindelik ook sy geleentheid.

Dit is een wat hy met altwee hande alreeds aangryp teen van Suid-Afrika se beste spelers en gerekende Proteas.

Duan het eers met die kolf sy staal op nommer 10 in die kolforde met ‘n standvastige 30 (77) bewys. Hier het hy saam met Ferisco Adams (96) in ‘n 84-lopie vennootskap gedeel om die Knights na 472 almal uit te bring. Die Knights se Raynard van Tonder het hier sy talent met ‘n puik 200 bewys.

Die Lions kon in hulle eerste beurt net 262 almal uit aanteken en is toe gevra om ‘n opvolgbeurt te neem. Die Proteas kolwer, Rassie van der Dussen, het die Lions aan die lewe met ‘n onoorwonne 107 gehou.

 

Duan het in die eerste beurt sy eerste paaltjie in Franchise-krieket geneem toe hy van die Protea, Wiaan Mulder vir 19 ontslae geraak het. Duan eindig met syfers van 16-4-47-1 wat ‘n puik refleksie van sy harde werk in die middel is.

Sake het nog beter vir Duan in die tweede beurt geword toe hy vir Van der Dussen vir 14 uitgeboul het. Grant Mokoena het albei paaltjies se vangskote verorber om Duan se dag te maak.

Die Knights blyk dat hulle al hoe nader aan ‘n oorwinning is met nog twee speeldae oor. Die Lions is nog 167 lopies agter die Knights.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version