SportSport

Jansen blink uit met die bal op franchise-vlak

Hierdie voormalige SA A en o.19 speler se sterkpunte wat in sy guns tel is dat hy variasie in ‘n boulaanval bring en ook genoeg spoed en bons van die blad af weens sy lengte kry.

Die voormalige Gimmie eerstespan krieketkaptein en veelsydige linkerarm snelbouler, Marco Jansen, is stelselmatig besig om sy naam in die hoed in SA franchise krieket te gooi.
Jansen het in sy eerste seisoen vir die Warriors, wat in Port Elizabeth gebaseer is, alreeds 17 paaltjies in die 4-dag Franchisereeks ingesamel teen ‘n boulgemiddeld van 20.05 met beste boulsyfers van 4/66.

Jansen het nog net drie wedstryde vir sy span gespeel en is tans tweede op die ranglys ten opsigte van meeste paaltjies in dié kompetisie.
Net Migael Pretorius van die Knights is ‘n kortkop voor Jansen, aangesien sy boulgemiddeld (18.29) effens beter is.

Jansen het ‘n beste boulontleding van 4/66 in ‘n beurt en 7/135 in ‘n wedstryd vanjaar en al het hy nog nie baie met die kolf gedoen nie, praat hy hard en duidelik met sy boulwerk.
Hierdie voormalige SA A en o.19 speler se sterkpunte wat in sy guns tel is dat hy variasie in ‘n boulaanval bring en ook genoeg spoed en bons van die blad af weens sy lengte kry.
Die Proteas het nog nooit regtig ‘n linkerarm snelbouler wat dinge ongemaklik vir hul opposisie maak en ook kan kolf nie.

Die laaste linkerarm snelbouler wat werklik ‘n impak gemaak het was Brett Schultz, maar hy het altyd die beseringspook gehad wat sy loopbaan kortgenip het.
Dit mag dalk effens vroegtydig wees om Jansen na die Proteas op te trek, maar dalk is nuwe bloed net die inspuiting wat die toetsspan nodig het na ‘n moeilike paar seisoene op toetsvlak.

“Dit is lekker om weer te kan speel en ek voel alles werk met my boulwerk en ek is bly dat ek ‘n paar goeie beurte kon boul vir die span. My doel is om by te dra dat die span wen en my mikpunt is om alles van my kant af te doen,” vertel Jansen nederig.

Volgens Jansen is dit sy doel om vanjaar die volgende twee wedstryde teen die Cobras en Dolphins te wen.
“Ons het ‘n moeilike begin sover in terme van uitslae en ons het net elke keer aan die verkeerde kant van die muntstuk geland.
“Ons hoop om die twee te wen om die jaar op ‘n goeie noot af te sluit.”

Related Articles

 
Back to top button