SportSport

Leon Boshoff: ‘n Haker in murg en been

“’n Goeie haker is soos goeie braaiwors – hy het so ‘n bietjie vark in hom. Die eienskappe van ‘n haker is om die ouens aan die gang te hou en passievol te wees.

Dit is ‘n feit dat ‘n goeie rugbyspan nie sonder ‘n vasberade en kompeterende haker kan gaan nie. ‘n Haker wat soos ‘n terrier nie ophou om in die opponente se gesigte te blaf en vreesloos te veg vir elke meter gras op die veld nie.
Die voormalige Wes-Transvaal en Leeus haker, Leon Boshoff, was een van daardie terriers met ‘n nommer 2 op sy rug wat met harde werk, talent en ‘n professionele mentaliteit sy merk op en van die veld af gemaak het.

Boshoff draai nie doekies om as dit by afrigting en rugby in die geheel kom nie – hy soek spelers wat bereid is om op die veld te bloei, maar ook wat rugby as ‘n lewenswyse kan aangryp. Sy tydperk by die NWU as voorspelerafrigter saam met hoofafrigter, Burger van der Westhuizen vanaf 2016 het hom al baie geleer oor die kuns van rugbyontwikkeling – hoe ‘n speler op en van die veld af groei.

Leon Boshoff (middel) vier saam met Willie Meyer en Marius Mostert die 1999 Curriebeker. Foto: Verskaf

“As afrigter kies jy spelers wat in jou wedstrydplan pas en dit die beste kan uitvoer. As ek as afrigter 100 persent gee wil ek hê dat my spelers ook 100 persent gee. Elke posisie het sy eie karakter en ons identifiseer en ontwikkel spelers om hulle doelwitte te bereik en as individu te laat groei,” vertel Boshoff, wat jare se rugby-ervaring as speler agter die blad het.

Boshoff was as speler die man wat sy spanmaats gemotiveer het en ook sake ongelooflik moeilik vir sy opponente gemaak het. Hy was ook ‘n Curriebekerwenner met die Leeus in 1999 en as bonus het hy ook die laaste drie van daardie wedstryd teen Natal gedruk.

“Toe ek by die Mielieboere weg is, het ek vir Pirates Rugbyklub gaan speel en is toe daarna vir die Leeus opgetrek na ek my fiksheid in twee maande moes opskerp. Dit was lekker tye by die Leeus en tye wat ek altyd sal onthou. Ons het ongelooflike spangees in daardie groep gehad.”

Boshoff se rugbyloopbaan het eers werklik begin groei op HTS Potchefstroom en Olenpark se klipharde velde voor Curriebekersukses en Super 12 avonture gemanifesteer het.
“Ek het in Gr. 2 in Heidelberg begin rugby speel en het langs die rugbyveld grootgeword. My pa het my toe aangeraai om HTS Potch toe te kom aangesien ek tegnies aangelê is. Na skool is ek Puk toe en het vir Over de Voor gespeel,” vertel Boshoff.

Leon “Bossie” Boshoff tydens sy speeldae. Foto: Verskaf

In 1989 het Boshoff vir die SA o.20-span gespeel en interessant genoeg, ook vir drie maande in San Diego in Amerika gespeel.
“Die moeilikste vir ons Afrikaanse manne was om in daardie jare Engels te praat,” lag Boshoff, wat in 99 wedstryde vir Wes-Transvaal uitgedraf het en ook 54 wedstryde vir die Leeus en 34 vir die Cats gespeel het.

Volgens Boshoff het ‘n goeie haker verskeie spesiale kenmerke.

“’n Goeie haker is soos goeie braaiwors – hy het so ‘n bietjie vark in hom. Die eienskappe van ‘n haker is om die ouens aan die gang te hou en passievol te wees. Hulle dra hulle harte op hulle skouers en moet die vaste vyf aan die brand steek.”

As afrigter het Boshoff baie van sy filosofie te danke aan Manie Spamer by Wes-Transvaal en Laurie Mains by die Leeus – professionalisme kom eerste. Afrigting is ook iets wat hom soos ‘n handskoen gepas het. In 2003 het hy saam met Hugo van As die Leeus o.20 span afgerig.

In 2004-2005 het hy saam met Eugene Eloff die SA o.19 span afgerig en was ook vanaf 2006-2009 as voorspelerafrigter saam met Eloff by die Leeus betrokke. Boshoff het in 2010 vir Hoërskool Florida afgerig, waarna hy daarna vanaf 2010-2011 as hoofafrigter by die Luiperds betrokke was.

Leon Boshoff is ‘n Wes-Transvaal rugbylegende met ‘n lang geskiedenis op en van die rugbyveld af. Foto: Wouter Pienaar

“Die tyd by die Luiperds was moeilik, aangesien die bestuur gevoel het dat ek te hard op die spelers was. Toe ek by die Luiperds kom, was daar 43 spelers en ek het omtrent 30 spelers laat gaan omdat hulle nie dissipline gehad het nie. Ek het drank ook verbied,” noem Boshoff.

“Wat ek by die Leeus geleer het, wou ek graag by die Luiperds toepas. Daar is ‘n verantwoordelikheid teenoor jouself, jou spanmaats en ondersteuners,” meen hy.
Boshoff noem dat een van die grootste verskille tussen top spanne juis in die vlak van kondisionering lê. “Wat ek nog altyd ervaar het, is dat daar baie talent in Potch is. Die harde werk en dissipline, sowel as die wil om van rugby ‘n loopbaan te maak, is nog nie op daardie vlak nie.

Ek is ‘n goeie motiveerder, maar dit is belangrik dat spelers die harde werk insit. Hulle moet aan my bewys dat hulle regtig beter wil word en dit wil verdien,” verduidelik hy.

“Vir my is rugby oorlog. As jy tussen die vier lyne is, sit jy alles op die spel. Rugby is ‘n leefstyl wat jou as mens laat groei.”

Buiten rugby kan ‘n mens vir Boshoff langs die diepseewaters in Sodwana kry waar hy diepseevisvang geniet, jag en gholf speel wanneer hy die geleentheid kry. Tog bly rugby ‘n kardinale aspek van Boshoff se lewe en hy gee met graagte erkenning vir die mense wat ‘n groot invloed op sy lewenspad het.

“My pa Willem, is my grootste mentor, dan afrigters soos Jan Weideman, Fanie Bosch, Oom Manie Spamer, Laurie Mains, Hugo van As, Eugene Eloff en natuurlik die Here wat nog altyd deure vir my oopmaak.”

 

Related Articles

 
Back to top button