SportSport

Atletiek is nog altyd op Neels Roodt se spyskaart

"Potch het van die beste afrigters in die land en daarom kan ACNW baie goeie atlete produseer."

Die huidige algemene bestuurder van Atletiek Sentraal Noordwes (ACNW), Neels Roodt, is ‘n man wat ervaring en passie vir atletiek in murg en been het.
Vandat hy die eerste keer die atletieksmaak in 1965 as ‘n Gr.1 seuntjie in Laerskool Schweizer-Reneke geproe het, kon hy tot op hede nie genoeg kry nie.
‘n Mens kan sê dat hy al verskeie atletiekdisse probeer het op dié sport spyskaart – van atletiek self beoefen tot atletiekafrigter, sportorganiseerder op skolevlak en tans algemene bestuurder by Atletiek Sentraal Noordwes.

“Ek het in 1984 in Klerksdorp by Laerskool Unie begin skoolhou. Van die begin af was ek sportorganiseerder, wat atletiek ingesluit het. In 1995 is ek Mmabatho toe en was sportorganiseerder in die Ngaka Modiri Molema-distrik.

“Ek het atletiek en kursusse vir die swart skole aangebied wat ook beamptekursusse ingesluit het. In 2010 is ek as Noordwes sportkoördineerder vir alle sportsoorte aangestel. Atletiek was nog altyd my gunsteling en ek het verskeie kursusse in NW gereël en beamptes opgelei,” noem hy.

Roodt se atletiekverpligtinge het vir eers minder geword met sy aftrede by die onderwysdepartment in Maart 2019.
ACNW se president, Jean Verster, het in Augustus vir Roodt genader om by ACNW as algemene bestuurder te werk. Roodt het in September weer deel van atletiek geword en is nou al 14 maande daar.

“ACNW het ‘n baie dinamiese en hardwerkende raad wat dinge laat gebeur.
“Ek moet die dag tot dag sake koördineer met Johny Tshibiri, stadionbestuurder en Marie Muller, adminbestuurder. My ander prioriteite is die plattelandse gebiede en borge.
“Almal werk as ‘n groot familie saam,” beklemtoon Roodt.

As algemene bestuurder is daar verskeie doelwitte wat Roodt graag sal wil laat realiseer.
Een van hulle is dat ACNW finansieel onafhanklik kan funksioneer en dat besighede en sakemanne van Potch en die omliggende omgewing betrokke raak by atletiek, spesifiek by ACNW.
“Ek wil hê dat daar meer plattelandse atlete sal kans kry om op tartan by die NWU McArthur-stadion te kom hardloop. Gereelde byeenkomste moet ook steeds veilig bedryf word,” noem hy verder.

Vir Roodt is dit ‘n riem onder die hart om te sien hoe atlete keer op keer verbeter en is dit een van die gunsteling aspekte van sy betrokkenheid by atletiek.

Hy sien juis daarna uit om volgende jaar meer afrigtingsklinieke saam met ACNW in die platteland aan te bied en die sport sodoende te laat groei.
Weens die Covid-19 pandemie was dit nie vanjaar moontlik nie, maar hy hoop 2021 bied daardie geleentheid.

“Ons het 2019 in Vryburg as basis, verskeie afrigtingsklinieke gaan aanbied. Skole van Stella,Taung, Schweizer en Vryburg was teenwoordig. Indien die pandemie ons ‘n kans gee in 2021, sal ons Christiana, Bloemhof, Wollies en Leeudoringstad ook besoek.
“Om almal te koördineer met vervoer, kos en water kan uitdagend wees, maar dit bly lekker.”
Roodt is dit ook eens dat Potchefstroom van die beste afrigters in die land het en dit ACNW dus in staat stel om top atlete te produseer.

“Wat die atlete wel nodig het, is ‘n groter inkoop van borge sodat meer byeenkomste aangebied kan word.
“Potch het van die beste afrigters in die land en daarom kan ACNW baie goeie atlete produseer.
“Om borge te kry, hetsy om ‘n bord teen die heining op te sit of net ‘n byeenkoms te borg, is baie uitdagend, veral in die Covid-19 tydperk,” beaam hy.

Related Articles

 
Back to top button