SportSport

Nuwe Luiperds wil tande wys

Die Luiperds se spelerskorps groei met drie nuwe gesigte by die unie vir die 2021 seisoen.

Die Luiperds se spelerskorps groei met drie nuwe gesigte by die unie vir die 2021 seisoen.
Hardus Pretorius, Robey Leibrandt en Shirwin Cupido gaan hulle bes doen om hul merk in die groen en rooi trui te maak. Met die eerste oogopslag lyk dié manne gereed om alles op die geskiedkundige veld van Olënpark te gee.

Hardus Pretorius

Hardus Pretorius (22) is nie ‘n nuwe gesig in Potchefstroom nie. Hy het in die stad grootgeword en in 2016 vir Volkies se eerstespan uitgedraf. Op skoolvlak het hy binnesenter gespeel, maar sedert hy in 2018 by die Valke aangesluit het, het hy losskakel, vleuel en heelagter gespeel. Sy kontrak het in Junie vanjaar verval en nou kry die jong agterspeler weer ‘n geleentheid om homself te bewys.
Sy veelsydigheid is een van sy sterkpunte en dit sal vir sy afrigters die geleentheid gee om hom in verskeie posisies uit te toets.
“Ek wil myself op ‘n professionele vlak hou sodat ek vir myself geleenthede kan skep. Ek sal my kant moet bring en nie slap lê nie, dit is een van die belangrikste dinge wat rugby my geleer het. Pretorius glo ook dat hy humor na die span bring en sodoende ‘n positiewe invloed op die groep kan hê.
“Ek bring positiwiteit na die span en hou daarvan om ‘n atmosfeer te skep wat die spanning breek. ‘n Mens kan sê ek is ‘n grapgat. Tog is ek ook nie bang vir enige iets op die veld nie en ek sal speel waar die afrigters my wil hê,” beklemtoon hy.

Robey Leibrandt

Robey Leibrandt (27) is nog ‘n voormalige Valke-speler wat nuwe lewe in sy loopbaan in Poctchefstroom sal wil blaas.
Die Pretorianer het vir Tuks gespeel en die Valke vanaf 2017-2020 verteenwoordig. Leibrant speel haker en kan ook as ‘n losvoorspeler speel.
“My doelwit is om eerstens die span te haal en dan ‘n verskil in elke wedstryd te maak,” noem hy.

Shirwin Cupido

Die blonde Shirwin Cupido (24) is dalk kort van statuur, maar dié skrumskakel is die ratsheid vanself met ‘n goeie rugbybrein op sy skouers.
Cupido is vanaf Pniel in die Wes-Kaap afkomstig en het al vir Boland, Griffons en Cheetahs uitgedraf.
“Ek sou sê my beste rugbyeienskappe is my wedstrydbestuur en dat ek vaart in en om die losgemaal en skrums het. Ek sal graag ‘n wenkultuur by die Luiperds wil skep waar ons vir die Curriebeker Premierliga kan kwalifiseer.”

Related Articles

 
Back to top button