SportSport

Bekende gesig wil aanhou om sukses vir Dragons vroue te lewer

Wynand Schmitt, of “Duimpie” soos hy in die krieketlandskap bekend is, is in Julie 2020 as die nuwe hoofafrigter aangewys en vat die leisels by Francois van der Merwe oor.

Die sukses van die Noordwes Dragons vrouekrieketspan die afgelope paar jaar is te danke aan puik afrigting, ‘n wenkultuur en die groei van talentvolle spelers tot volwaardige Proteas.
Vanjaar is daar na nege jaar ‘n nuwe, tog bekende gesig in afrigtingskringe aan die stuur van sake by die Noordwes Dragons vrouekrieketspan.

Wynand Schmitt, of “Duimpie” soos hy in die krieketlandskap bekend is, is in Julie 2020 as die nuwe hoofafrigter aangewys en vat die leisels by Francois van der Merwe oor.
Dit is nogal stewige leisels wat deurspek is met suksesverhale deur die jare en met ‘n klomp nasionale toekennings en trofeë.

Tog as Van der Merwe se regterhand as hulpafrigter vir die afgelope sewe jaar is die nuwe skuif na ‘n hoër pos iets wat heel organies is vir Schmitt.

“Ek het baie by hom (Francois van der Merwe) geleer oor die tegniese en taktiese deel van krieket, maar hoe goed hy met mense gewerk het, is die deel waar ek die meeste by hom geleer en ook gegroei het as afrigter,” verduidelik Schmitt.

Schmitt was ook vir lank by Volkies se afrigting betrokke en het ook talle Noordwestitels vir die skool help inpalm. Natuurlik is sukses weer in sy visier met dié vrouespan.

“Vir die span is vanjaar se doelwit om ‘n trofee te wen en individueel om meer spelers te ontwikkel om in die nasionale span, SA Opkomende span en nasionale Akademie in te kry,” noem Schmitt.

Wynand Schmitt is die NWU Dragons vroue se nuwe hoofafrigter nadat hy reeds sedert 2013 by die span betrokke is. Foto: Verskaf

Een van die uitdagings vanjaar gaan wel vir Schmitt wees om konsekwent te wees wanneer die top spelers op nasionale diens is.
“Die grootste uitdaging gaan wees wanneer ons nasionale spelers nie beskikbaar is nie. Alhoewel ons ‘n groot groep spelers het, gaan die diepte van ons groep dan getoets word.
“Dit bring dan weer geleenthede vir ander spelers om meer verantwoordelikheid te vat,” meen Schmitt.

Een van die groen ligte vir Schmitt by die NW Dragons Vrouegroep is dat daar ‘n groot groep spelers is wat mekaar druk om elke keer te verbeter en die beste in die land te wees.

“Ons het ‘n baie sterk pyplyn van o.13 tot o.19, daar is baie talent vir die toekoms wat my opgewonde maak. Ons is nog nie professioneel nie, maar vrouekrieket groei so vinnig, hopelik is ons binnekort in ‘n posisie waar ons vir ons spelers kontrakte kan gee en professioneel kan wees.”

Related Articles

 
Back to top button