SportSport

Chaka Willemse: Rugby is diep gewortel in sy hart

Willemse is soos die Engelsman sê ‘n regte “Gentle Giant” – groot in statuur, maar sorgvuldig met sy woorde, vlymskerp met sy kennis en ‘n onmeetbare passie vir die spel.

Afrigting is iets wat nie in almal se broekspype lê nie – dit vat deursettingsvermoë, harde werk, ‘n skerp brein sowel as mensekennis om te weet hoe om spelers optimaal te laat groei.
Die Luiperds se voorspelerafrigter, Chaka Willemse, is iemand wat met graagte die broek dra as dit by afrigting kom – dit is juis sy manier om terug te gee aan rugby na meer as 100 provinsiale wedstryde en talle bekers wat hy in sy speeldae ingepalm het. Verder is hy ook bekend as die Luiperds se hoofafrigter vanaf 2008-2010 toe hy die span in die Curriebeker Premierliga teen die top spanne in die land gebrei het.

Willemse is soos die Engelsman sê ‘n regte “Gentle Giant” – groot in statuur, maar sorgvuldig met sy woorde, vlymskerp met sy kennis en ‘n onmeetbare passie vir die spel.
Hy is nie iemand wat noodwendig die glorie soek nie, maar eerder die satisfaksie om rugbyspelers beide op en van die veld af te verbeter.

Chaka Willemse tydens sy speeldae vir die Pumas. Foto: Verskaf

Willemse se rugbystorie het al van jongs af begin met sy pa wat ‘n rugbyafrigter was – dit is dan geen wonder dat die appel nie ver van die boom val nie.
As speler het Willemse vir die Polisie Rugbyklub in Pretoria in die kompeterende en geskiedkundige Carltonliga (Blou Bulle se klubrugykampioenskappe) gespeel en in die negentigs daar naamgemaak. Hy het verskeie bekers, insluitend die klubkampioenskappe, in 1995 gewen. Willemse was een van die staatmakers vir die Bobbies en het ook die span as kaptein gelei.

Chaka Willemse staan langs die Transvaal kaptein, Kobus Wiese voor ‘n Curriebekerstryd.

“Oom James Stoffberg het my toe gevra of ek vir die Pumas wil gaan speel. Ek het sy uitnodiging aanvaar en toe in meer as 100 wedstryde vir die Pumas gespeel. Dit was ‘n lekker ervaring om vir ses jaar kaptein te wees en ek het dit baie geniet,” vertel Willemse, wat talle wedstryde in Witbank gespeel het.

“Afrigting het vir my van ‘n jong ouderdom begin. My pa het ook afgerig en ons het toe van die kantlyn af gekyk hoe hy dit doen. In my speeldae het ek gesien dat ‘n mens altyd ‘n hand kan bysit en ek het toe al as speler help afrig waar ek kon.”

Chaka Willemse met bal in die hand vir die Pumas.

Willemse het na sy speeldae as afrigter by skole betrokke geraak by Laerskool Rustenburg saam met mnr. Koos van Vuuren en hy kyk met goeie herinneringe terug na daardie dae.

“Die kinders het inligting soos sponse ingeneem en dit was vir my baie lekker. Ek het toe besluit dat afrigting vir my is en dat ek gaan kyk hoe ver ek dit kan bring. Ek was ook bevoorreg om die Beeldtrofee o.14 te wen,” noem Willemse.

Aan die einde van 2004 het Willemse vir die eerste keer by die Luiperds betrokke geraak.

“Ons het daardie tyd baie goed gedoen en probeer om nuwe dinge te implementeer. In 2007 het ek as waarnemende hoofafrigter by die Luiperds begin en in 2008 is ek amptelik as hoofafrigter aangestel.”
2008 was ‘n uitstekende jaar vir Willemse wat die Luiperds vanuit die Curriebeker Eersteliga na die Premierliga gelei het.

Chaka Willemse ontvang in 2008 sy baadjie as Luiperdsafrigter. Foto: Verskaf

“Ek het dit verskriklik geniet om die Luiperds op daardie top vlak af te rig. Dit was wel teleurstellend om nie langer as afrigter te bly nie. Ja, ons het nie altyd gewen nie, maar ek glo ons het steeds goeie aanvallende rugby gespeel. Nadat ek daar weg is, moes ek ook ‘n groot besluit maak of ek in afrigting wou bly.

“Ek het toe besluit om te bly en by die koshuise en NWU betrokke geraak,” vertel Willemse wat beide span- en individuele afrigting gedoen het voordat hy in 2019 weer voltyds by die Luiperds in die afrigtingspan betrokke geraak het.

“Dit is baie lekker om saam met André Pretorius en Jean Tiedt te werk. Ons is ‘n baie dinamiese afrigtingspan waar elkeen iets spesifiek na die tafel bring. Ek dink ons komplementeer mekaar goed en brei uit waarheen ons wil gaan. Ek glo ek het as afrigter baie gegroei en dit is vir my lekker om jeug en ervaring bymekaar te bring en ‘n sukses van die Luiperds te maak.”

Een van Willemse se groot hoogtepunte was in 2009 toe hy byna die Britse en Ierse Leeu-toerspan vol ervare spelers in Rustenburg geklop het. Die eindtelling was 25-37.

Dit was juis ‘n groot oomblik vir Willemse aangesien hy as speler die geleentheid misgeloop het om teen die Britse en Ierse Leeus vir die Pumas te speel.

“Ek was vir daardie wedstryd beseer, maar dit was goed om twaalf jaar later die kans as afrigter teen hulle te kon hê. Dit het beslis opgemaak vir die besering van destyds,” meen hy.

Volgens Willemse was dit ‘n ongelooflike ervaring om teen die Britse en Ierse Leeus te kon speel.
“Niemand het ons in daardie wedstryd ‘n kans gegee nie en toe wen ons amper.
Die gees in die span was ongelooflik en al het ons verloor, het dit my geleer dat ‘n mens altyd ‘n kans staan om ‘n wedstryd te wen, veral as jou voorbereiding goed is,” sluit hy af.

Related Articles

 
Back to top button