SportSport

’n Rolbaldag om te onthou vir PPC en Amelia Nasorgsentrum

Die glimlagte op die deelnemers se gesigte en die intense konsentrasie wanneer die balle gerol het, was iets om te aanskou.

Die rolbalklub van die Potchefstroomse Buiteklub (PPC) het Vrydag, 13 November ‘n opwindende rolbaldag vir mense met spesiale behoeftes aangebied.

Die inisiatief is deel van Rolbal Suid-Afrika se “Differently Abled Month”-veldtog in November om die toeganklikheid van rolbal uit te beeld en die spel aan meer mense bekend te stel.
Daar was sowat 48 deelnemers van Amelia Nasorgsentrum op die rolbalbane van die Buiteklub wat in spanne teen mekaar gespeel het en meer oor die spel geleer het.

Dit het terselfdertyd ook vir die inwoners ‘n kans gegee om die buitelug na ‘n lang inperkingstyd te geniet. Die glimlagte op die deelnemers se gesigte en die intense konsentrasie wanneer die balle gerol het, was iets om te aanskou.

“Vandag is een van die min geleenthede vir die inwoners van Amelia Nasorgsentrum om aan sport deel te neem op ‘n veilige manier met Covid-19 regulasies in plek.
Hulle geniet dit elke jaar vreeslik baie. Hierdie is ‘n bewys dat rolbal vir enige iemand is, maak nie saak wat jou behoeftes is nie,” vertel die Noordwes Rolbal president, Jan Koekemoer.

“Almal by die rolbalklub doen baie moeite om ‘n sukses van die dag te maak. Gawie en Laetitia Wolvaard en Henry en Daleen Peens het veral harde werk ingesit om die dag te reël en ‘n sukses daarvan te maak,” noem Koekemoer verder.

Foto’s: Wouter Pienaar

Hy bedank ook vir Agricol, Timbercity, Seeff Properties, Lektratek, Super Ginja, Hannes le Grange, en Hein Neomagus wat tot die sukses van die dag bygedra het.

Related Articles

 
Back to top button