SportSport

Van Eeden trap twee seges los

Van Eeden het die Saterdag die Karkloof Classic gewen en die volgende dag sonder skroom die 40km Drakensberg Gardens Classic Challenge ook verower.

Die Potchefstroomse bergfietsryer, Brendan van Eeden, is besig om goed naam te maak op kompetisievlak, nadat hy die afgelope naweek die Sappi Karkloof Classic Challenge en die Gooderson Drakensberg Gardens Classic Challenge gewen het.

Brendan van Eeden neem die voortou in die Karkloof Classic. Foto’s: Anthony Grote/Gameplan Media

Van Eeden het die Saterdag die Karkloof Classic gewen en die volgende dag sonder skroom die 40km Drakensberg Gardens Classic Challenge ook verower. Die 60km Karkloof wedren wat naby Howick plaasgevind het, was volgens Van Eeden een van die uitdagendste wedrenne waaraan hy al deelgeneem het.

“Ek is regtig bly dat ek kon wen, veral omdat almal altyd praat oor die Karkloof Classic en oor hoe hard dit is. Dit sou ook die baan gewees het vir vanjaar se SA marathon kampioenskappe, wat ongelukkig weens Covid-19 afgestel is.
“Ek kan met eerlikheid sê dit is die hardste 60km-weden wat ek nog gedoen het en dit maak my opgewonde vir die laaste deel van die seisoen met Sani2C aan die begin van Desember,” noem van Eeden, wat tans vir die Absolute Motion-span ry.

In hierdie wedren het die voormalige Gimmie van die begin af die pas beheer teen die eerste klim, tot hy halfpad saam met Stuart Marais en Tyronne White van die groep weggebreek het.

Brendan van Eeden (middel) word deur Stuart Marais en Tyronne White na sy oorwinning in die 2020 Karkloof Classic MTB Challenge gelukgewens. Foto: Anthony Grote/Gameplan Media

“Aan die bopunt van die bult het ek en Stuart ‘n klein gaping op Tyronne gehad. Op die eerste downhill het Stuart ongelukkig ‘n pap wiel gekry. Ek het toe finaal weggebreek teen die groot klim vir die dag (die Lebanon klim) en van daar af net die gaping beheer en seker gemaak ek kom veilig by die einde aan omdat ons die volgende dag weer ‘n ander wedren gedoen het.”

Van Eeden fokus nog op twee spesifieke wedrenne in 2020 en as sy uitslae ‘n aanduiding is, kan hy nog twee wenne inpalm om 2020 op ‘n besliste goeie noot af te sluit. Ek fokus nou op die KZN kampioenskappe aan die einde van November en dan die Sani2C aan die begin van Desember.”

Brendan van Eeden op pad na sy oorwinning in die 2020 Karkloof Classic Bergfietswedren. Foto: Anthony Grote/Gameplan Media

Uitslae:
Sappi Karkloof Classic Challenge (60km)
1. Brendan van Eeden 2:46:54
2. Stuart Marais 2:56:50
3. Tyronne White 2:58:58
Gooderson Drakensberg Gardens Classic Challenge (40km)
1. Brendan van Eeden (1:50:05)
2. Stuart Marais (1:50:27)
3. Andrew Hill (1:51:26)

Related Articles

 
Back to top button