SportSport

Nuwe spelers in NWU Varsitybekergroep wil groot verskil maak

Almal is top spelers met provinsiale kleure op junior vlak, asook Varsitybekerervaring by ander universiteite, om maar ‘n paar van die hoogtepunte op hulle CV’s te noem.

Daar is vars en opwindende bloed by die NWU Rugbyinstituut wat wil seker maak dat hulle op die sukses en tradisie van die NWU gaan voortbou.

Allen Kelbrick (regtervleuel), Conan le Fleur (buitesenter), Sphephelo Mabuza (agtsteman), Charl Pretorius (vleuel, buitesenter), Francois Boonzaaier (haker) en Keagan Fortune (losskakel) is die nuwe aanwinste wat in die NWU se voorbereidingsgroep vir die 2021 Varsitybekerseisoen ingesluit is.

Almal is top spelers met provinsiale kleure op junior vlak, asook Varsitybekerervaring by ander universiteite, om maar ‘n paar van die hoogtepunte op hulle CV’s te noem.

Hier is ‘n kykie na wat elke speler bring:
Allen Kelbrick (regtervleuel)
Skool: Hoërskool Garsfontein
Provinsiale ervaring: Leeus o.19
Studies: Sportbestuur en onderwys
“Ek het die afgelope tyd beserings gehad en wil graag hier by die NWU my plek oopspeel en ook persoonlik ‘n beter mens word. Dit is ‘n geleentheid van die Here om rugby te kan speel en ek sien uit om hier ‘n merk te maak.
Conan le Fleur (buitesenter)
Skool: Glenwood High
Provinsiale ervaring: SA Skole (2017), Cheetahs (o.21 – kaptein)
Studies: Sportkunde
“Ek wil graag die finale Varsitybekergroep haal en dan ook elke week op die hoogste vlak speel. Ek sal ook graag vir die Luiperds wil speel en my droom is om eendag vir die Springbokke uit te draf. Ek wil noem dat my verdediging as buitesenter sterk is en ek glo ek het ook goeie gees om vir die NWU te bring.”
Sphephelo Mabuza (agtsteman)
Skool: Sunnydale Secondary School
Provinsiale ervaring: UKZN (Varsity Shield), SA Students Sevens voorbereidingsgroep
Studies: Besigheidsbestuur
“My doel is om seker te maak dat ek alles in my vermoë doen om die NWU na ‘n sege in die Varsitybeker te kan lei. Ek sal eendag graag ook professionele rugby wil speel en ek glo ek het die fisiese kwaliteite vir ‘n agtsteman, maar kan ook met die bal hardloop.”
Charl Pretorius (vleuel, buitesenter)
Skool: Grey Kollege
Provinsiale ervaring: Cheetahs (o.21), Shimlas (Varsitybeker)
Studies: Nagraadse diploma in besigheidsbestuur
“Die NWU speel nog altyd in my opinie aanskoulike rugby en ek glo dit gaan lekker wees om betrokke te wees. Ek glo ek kan ervaring bring aangesien ek al deel was van vorige Varsitybekertoernooie. Dit gaan ook vir my ‘n groot eer wees om André Pretorius as afrigter te hê. Hy is ‘n groot held vir my sedert ek begin rugby speel het.”
Francois Boonzaaier (haker)
Skool: HTS Louis Botha
Provinsiale ervaring: o.16 Grant Khomo, o.18 Cravenweek
Studies: Sportwetenskap
“Ek het van kleins af ‘n liefde vir rugby en ek wil alles doen om my potensiaal te bereik. Ek sien uit om in die Varsitybeker te kan speel en deel van die NWU te wees.”
Keagan Fortune (losskakel)
Skool: Western Cape Sports School
Provinsiale ervaring: UWK (Varsitybeker) WP o.21, Boland
Studies: Besigheidsbestuur (nagraadse diploma)
“Ek wil die span haal en dan ook die span met my spel bevorder. Ek sal graag vir die NWU in die finaal wil speel en die toernooi laat wen. Ek sal myself as ‘n losskakel beskryf wat kan skop en goed met die bal kan hardloop.”

Related Articles

 
Back to top button