SportSport

Potch Track Club groei van krag tot krag

Die idee is om ‘n pyplyn te skep vir atlete om vanaf ‘n jong ouderdom tot na hulle studies steeds deel van die klub te bly. Dit word ‘n gemeenskap van atlete wat die sport beoefen en mekaar ondersteun.

Die ontstaan van die plaaslike Potch Track Club (PTC) is een wat toegeskryf word aan ‘n suksesverhaal wat 16 714 kilometer Noordwes van Potchefstroom in Eugene, Oregon in die Verenigde State van Amerika begin het.

Die noue band tussen die Oregon Track Club in Eugene, Oregon en die Potch Track Club in Potchefstroom is een van die interessantste sportverhale, wat bewys dat goeie verhoudings in sport juis na nuwe geleenthede kan lei.

Die kenmerkende swart en rooi atletiekdrag van die Potch Track Club is gewoonlik in die voortou by atletiekbyeenkomste. Hier lei Henco Uys en Emile Pieterse die res van die veld. Foto: Verskaf

Die skakel van hierdie band is die stigter en afrigter by Potch Track Club, Jean Verster.
Verster is bekend dat hy vyf jaar by die Universiteit van Nebraska in die VSA met ‘n sportbeurs studeer het. Volgens NCAA reëls kon Verster net vyf jaar by die universiteit deelneem.
Toe sy beurstydperk verstryk het, kon hy nie eers meer op die bane oefen nie. Dit is juis met die Potch Track Club dat Verster vir atlete, net soos by Oregon Track Club, die geleentheid gee om steeds by atletiek betrokke te bly.

“Potch Track Club het drie jaar gelede begin met ‘n klomp verskillende faktore wat tot die ontstaan bygedra het. Die meeste klubs in Suid-Afrika funksioneer op marathons en nie spesifiek baan- en velditems nie.
Potch Track Club gee geleentheid vir atlete om na hulle studies ook aan te hou in die sport,” verduidelik Verster.

“Toe ek in Amerika was, was daar nie hardloopklubs soos in Suid-Afrika nie. Die enigste soortgelyke klub was die Oregon Track Club wat Bill Bowerman (ook mede-stigter van Nike), begin het.

Jerry Motsau is een van Potch Track Club (PTC) se top elite atlete. Foto: Back Track Sports

“Die klub het ook ‘n noue verband met die Universiteit van Oregon. Met die Potch Track Club wil ons ook die plaaslike atlete help om langer in die sport te bly en ook om by ontwikkeling betrokke te raak.

“Dit is bewys dat atlete eers later in hulle atletiekloopbaan hul beste vorm bereik. Baie atlete verlaat atletiek omdat daar nie na universiteit klubs is waar hulle kan aanhou om te groei en by die sport betrokke te wees nie,” vertel Verster.

Volgens Verster is borgskappe ook belangrik en dit is hier van Nike ook ‘n groot rol speel, asook die skakel wat die Potchefstroomse klub met die Oregon Track Club het.

“Met die borgskappe kan Potch Track Club ander kleiner atletiekklubs in ons area met befondsing of atletiekdrag help en as ‘n sambreelklub funksioneer waarin die ander klubs se atlete ook vir ons kan hardloop,” verduidelik hy.

Net soos wat die Oregon Track Club ook sy atlete in verskillende takke organiseer, wil Potch Track Club dieselfde doen met ‘n elite, oop klub en akademie-afdelings.
“Die elite been is waar top atlete soos Jerry Motsau, Henco Uys, Elroy Gelant, Tumisang Monnatlala en ander dan vir so lank moontlik by die sport betrokke bly en aan kompetisies deelneem. Die akademie-gedeelte wil ons spesifiek op die kinders fokus en ontwikkeling bevorder.

Potch Track Club atlete oefen op die Fanie du Toit Sportgronde in 2019. Foto: Verskaf

“Die idee is om ‘n pyplyn te skep vir atlete om vanaf ‘n jong ouderdom tot na hulle studies steeds deel van die klub te bly. Dit word ‘n gemeenskap van atlete wat die sport beoefen en mekaar ondersteun,” verduidelik hy.

Gemeenskap is een van die kernaspekte vir Verster wat ook noem dat die plaaslike fisioterapeut, Eben Verster, ook by die klub betrokke is.

Verster het ook ‘n goeie verhouding met uitstekende afrigters soos Mark Rowland en David Campbell by die Oregon Track Club, sowel as Nike wat ook Potch Track Club borg. Sodoende kan atlete van Potch Track Club ook geleenthede kry om in Oregon te gaan oefen.

“Atlete het toegang tot al die fasiliteite in Potch en Potch Track Club kan as ‘n trekpleister dien vir atlete wat die volgende hoofstuk na universiteitsatletiek wil begin. Ons by Potch Track Club wil atlete help om die top vlak te bereik en ‘n plekkie in die son te bied,” noem hy.

Related Articles

 
Back to top button