Potch vegters gaan vir goud by Alpha MMA

Die twee vegters in puik kondisie en het albei die nodige vaardighede om enige opponent te laat les opsê – hetsy in ‘n wurggreep of met ‘n uitklophou.

Groot titels is hierdie Saterdag, 3 Oktober in die Alpha amateur gemengde gevegskuns (AMMA) arena op die spel wanneer twee van Potchefstroom se bestes vir goue belde gaan baklei.
Micky Cloete en Armando de Crescenzo, albei van die plaaslike Coalition Grappling Academy, is gereed om weer teen die land se top amateur gemengde gevegskunsvegters te kompeteer en bo uit te kom.

Cloete veg teen Vuyo Jula vir die vlieggewig-titel, terwyl De Crezcenzo teen Guelor King vir die weltergewig-titel kompeteer.

Hierdie groot byeenkoms wat die land se top amateurorganisasie, Alpha MMA by Mall of Africa in Johannesburg aanbied, beloof om vir groot vuurwerkte te sorg.

Die feit dat Cloete en De Crescenzo albei weer op die hoofverhoog by Alpha MMA is en vir die top titels in die land kompeteer, is bewys dat Coalition Grappling Academy onder leiding van die plaaslike professionele EFC vegter, Roevan de Beer, een van die top klubs in die land is.
Volgens De Beer, afrigter van Cloete en De Crescenzo, is sy twee vegters in puik kondisie en het albei die nodige vaardighede om enige opponent te laat les opsê – hetsy in ‘n wurggreep of met ‘n uitklophou.

“Dat beide Micky en Armando daar is beteken dat ons sisteem werk en dat dit nie net ‘n individu was wat een keer goed gedoen het nie. Armando en Micky se veelsydigheid is baie goed, hul sal gemaklik wees, maak nie saak waarheen die fight gaan nie,” vertel De Beer.

Cloete en De Crescenzo is albei vreeslik opgewonde oor Saterdag se gevegte en wil beslis met titels na Potch terugkeer.

“Dit voel awesome om weer te kompeteer na lockdown, die kompetisie is waarvoor ek hard werk en dis al hoe mens kan weet of al die harde werk en oefening die moeite werd is.
Die feit dat ek so graag die titel by AMMA (Alpha MMA) wil wen het my gemotiveer,” verduidelik Cloete wat ook ‘n bruin belt (Senpai) in skopboks het.

Cloete het verlede jaar by Klerksdorp Fight Night (KFN) die bantamgewigtitel gewen en dit het hom verder aangespoor om sy professionele MMA drome ‘n groter realiteit te maak.

“Ek het ‘n diverse agtergrond met skopboks, jiu-jutsu en grappling en wil nie graag net op een spesifieke styl fokus nie. Ek wil graag my swart belt in November in skopboks behaal en dan ook my professionele MMA lisensie kry,” noem hy.

“Roevan help my baie om my tegnieke te verskerp. Hy help my ook om op my foute te fokus, my foute reg te maak en hoe om te fokus om my dieet en dit op die regte wyse te volg en my gewig te haal vir die geveg. Hy help my werk aan my strategie,” voer Cloete aan.

Micky Cloete en Armando de Crescenzo is twee plaaslike gemengde gevegskuns (MMA) vegters van Coalition Grappling Academy wat hierdie naweek Alpha MMA titels wil terugbring Potch toe. Foto: Verskaf

De Crescenzo is ‘n jong opkomende vegter wat reeds baie in ‘n kort tydperk behaal het en sy oë op nog glorie het.

“Die voorbereiding het goed gegaan, veral met my kondisionering en om nuwe tegnieke te leer wat my Saterdag sal help teen my opponent,” vertel De Crescenzo. Hy het verlede jaar sy graad in B.Com Ekonomie en Internasionale Handel verwerf en doen vanjaar sy NGOS.

Hy glo ook dat sy grondwerk en fiksheid sy twee grootste sterkpunte is, maar dat hy eers bietjie wil staan en sy vaardighede op die voete uittoets.

“Dit was frustrerend om nie tydens lockdown te kon deelneem nie, maar ek is bly ons kan weer kompeteer. Ek het geweet een of ander tyd sal ons weer na lockdown terugkeer, toe het ek vir myself gesê ek moet bly oefen om een stap voor my toekomstige opponent te wees,” verduidelik De Crescenzo.

“My doelwit is om die titel Saterdag te wen en dan die titel te behou en aan die einde van die jaar die titel weer te verdedig.”

Die gevegte begin om 17:00.

* Kyk die gevegte regstreeks op Alpha MMA se Youtubekanaal by die volgende skakel: https://www.youtube.com/watch?v=8uyxtYFm2gg

Exit mobile version