MotoringSportSportSport

Volkie wys haar slag op die gholfbaan

Sy het reeds op 5-jarige ouderdom ‘n groot belangstelling in die sport getoon, en na ‘n paar lesse kon ‘n mens dadelik sien dat sy ‘n talent daarvoor het.

Gholf is iets wat vir Zelané Wessels, ‘n graad 11-leerder aan Hoër Volkskool Potchefstroom, soos ‘n handskoen pas.
Sy het reeds op 5-jarige ouderdom ‘n groot belangstelling in die sport getoon, en na ‘n paar lesse kon ‘n mens dadelik sien dat sy ‘n talent daarvoor het. Nou, twaalf jaar later, en Zelané se liefde vir die sport is nog groter waar sy haar gereeld op die baan bevind.

Zelané Wessels met die NW Ope B-afdeling trofee

“Ek het afrigting by Akasia Gholfklub by Quintin Byleveld ontvang en speel nou al vir twaalf jaar gholf. My eerste bekendstelling met gholf was by my kleuterskool toe Intro Golf ‘n klas daaroor aangebied het,” vertel Zelané. Buiten al haar trofeë en tyd op die gholfbane van die land, onthou sy wel ook die interessante oomblikke wat haar liefde vir die sport gevorm het.

“My oefeninge op die grasperk waar ek my eerste mooi hou deur die sitkamervenster geslaan het en hoe ek die seuntjies in my eerste toernooi ver gewen het, onthou ek goed,” vertel sy.
“Gholf leer mens baie dissipline en hou jou nederig. Dit help my om my kop skoon te kry en net die natuurskoon te waardeer. Ek het al op baie mooi bane gespeel, waaronder Pinnacle Point en Gary Player (Sun City) maar Millvale privaat gholfbaan buite Koster is my gunsteling. Die baan is altyd in ’n puik toestand en is baie uitdagend,” meen sy.

Elri Botha (NW kaptein), Zelané Wessels en Crystal Cooper

Een van haar grootste hoogtepunte tot dusver is toe sy verlede jaar vir die SA Vroue Interprovinsiale Toernooi (IPT) by Riviera on Vaal gekies is. Sy het ook dieselfde jaar die NW Ope se B-afdeling gewen.

“My droom is om Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig. My droombaan is Augusta National in Augusta, Georgia. Ek sal graag verskeie bane in die wêreld ook wil gaan speel,” noem Zelané.

Sy woon tans op ‘n plaas, wat dit nogal uitdagend maak om elke dag by die gholfbaan uit te kom.

Zelané is tans in Volkies se Ons Hoop Dameskoshuis en poog om drie keer per week ook by die Potchefstroom Buiteklub te gaan oefen, maar die inperking het sake moeilik gemaak.

Zelané Wessels vind haar weg na die pytjie.

“Lockdown het ‘n negatiewe uitwerking op my gholf gehad omdat ek nie die nodige tyd kan insit nie, maar daar is darem baie plek op die plaas om die nodige te doen,” verduidelik sy. Sy kon uiteindelik weer ‘n paar naweke gelede haar gholfstokke in ‘n kompetisie tydens die Orkney Ope swaai en dit was vir haar ‘n belewenis.

“Dit het my weer laat besef watter voorreg dit is om op ‘n baan te speel en interaksie met mense te hê en is vreeslik verfrissend.

“Oor die algemeen word vrouegholf nie baie raakgesien nie, so dit is belangrik dat meisies betrokke raak. Daar is ongelooflike geleenthede vir meisies wat die talent het en bereid is om hard te werk. Gholf leer mens ongelooflik baie lewenslesse, waaronder dissipline, deursettingsvermoë en dit toets jou op elke vlak – fisies, psigies en geestelik,” sê sy.

Dit is juis Zelané se grondslag in Jesus wat haar maak wie sy is. Sy gee haar beste vir Hom en streef elke rondte daarna om haar persoonlike beste te breek, haar beste spel te speel en dit te geniet.

“Ek is gegrond in Jesus en wil nie soos iemand anders wees nie. Ek wil wees wie Hy my gemaak het om te wees, alhoewel ek opkyk na my pa omdat hy my altyd bystaan en motiveer. Ek is ‘n groot ondersteuner van Rory Mcllroy, wat hom my gholf rolmodel maak.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button