Ses-voet-ses en elke duim onstuitbaar

Ek onthou ons het een jaar teen die Spoorwegpolisie op Klerksdorp gespeel en was so 30 of 40 punte voor toe breek daar ‘n ‘mob’ geveg uit.

Ystervarkhare, op Gibraltar se rots kroon gemaak. Jy kan Kobus Wiese nie miskyk nie.
Dit is hy wat die Nieu-Seelandse fenomeen Jonah Lomu voor ‘n wêreldgehoor aangegluur het. Oë wat nie een keer knip nie. Lomu die onstuitbare golf en Wiese die muur wat nie kan breek nie. Jy. Mors. Nie. Met. Wiese. Nie. Ditsem, maak dit sommer ‘n werkwoord.

Einste jaar, Webb Ellis-trofee reeds in die sak en Suid-Afrika speel gasheer vir die besoekende Walliese Drake. Vyfslot aan die teenstanders se kant is ‘n reus – teendeel, die langste speler wat nog vir Wallis uitgedraf het – genaamd Derwyn Jones.

Man, die wedstryd is nog in sy doekfase of Jones gaan staan en pluk-pluk aan Wiese. Parmantige brak vang toe die (Ko)bus en word getref met ‘n vuishou wat selfs die duiwel sou laat steier. ‘n Beurtkraghou, ligte uit. Vandag nog is daardie oorveeg deel van rugbyvolksmond. Oor wat Jones hom toegesnou het, kies hy swyg bo bieg: “Nee, kom ons sê maar net ek het hom terug gekry vir ‘n hou vroeër.” Hy herkou aan die herinnering en sê dan: “Ek is nie trots daarop nie.”

Wiese is op 16 Mei 1964 in die Paarl gebore, waarna Oranjemund se afgesonderde stem en Lüderitz se snerpende soutwaterwinde hom tot groter gestalte geblaas het. Toe die tyd kom het hy, nes sy ouer broer Benhard, sy heil by Paarl Gimnasium gaan soek en later sakplek in Boland se skrum gevind. Kleinboet Cornel sou later volg. Sy vurige spel vang Manie Spamer, afrigter van Wes-Transvaal se oog, ‘n oproep later en siedaar: hy’s ‘n Mielieboer.

“As dit nie vir prof. Spamer was nie, sou ek nooit Potch toe gekom het nie. Hy was ‘n ongelooflike afrigter, takties briljant. Hy was een van die drie beste afrigters onder wie ek gespeel het,” vertel hy. Kitch Christie en André Markgraaf die ander.

Op dié klipharde velde waar gras ‘n tooisel eerder as ‘n kussing was, het hy deur bloedsweet geleer ’n gebraaide hoender vlieg niemand in die mond nie.

Hier, waar ongenaakbaarheid gedaante in die myn se hardebaarde gevind het en daar geleer was hoe om kamphaanstudente se vere uit te trek. Toe ’n oog vir ’n oog en hand wat brand nog ’n toelaatbare sonde op ’n rugbyveld was. Ja, sy twee jaar by die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege (wat as deel van die Noordwes-Universiteit se herkoms dien) en Wes-Transvaal was die korsvorming vir die toekomstige Wêreldbekerwenner saam met manne soos Tjaart Marais, Don Berry, Robert du Preez en Eugene Hare.

Kobus Wiese – rotsvas van toeka tot nou

Anderse tye, daai. Hy lag ‘n groot man se lag: “Ek onthou ons het een jaar teen die Spoorwegpolisie op Klerksdorp gespeel en was so 30 of 40 punte voor toe breek daar ‘n ‘mob’ geveg uit. Al die spelers raak betrokke en self die skare storm die veld.” Sy lag ontaard in ‘n bulder: “Dit was hulle eerste wedstryd en toe word hulle lewenslank uit die liga geskors!”
Dink 1995, dink Frankryk, stortreën en ‘n modderbad van ‘n Kingspark. Hy wat vir Balie Swart sê dat hulle nie vir ‘n dêm tydens ‘n kritieke skrum, met tyd verstreke, trurat toe gedruk mag word nie. Dink 24 Junie, ’n Boeing, Madiba en Ellispark. Hoe goed het hierdie lesse nie Suid-Afrika te pas gekom nie?

Gedugste teenstanders of talentvolste spanmaats wil hy nie uitsonder nie.
“Dit sal onregverdig wees,” erken hy. “Daar is net te veel om te noem en jy kan nie spelers met mekaar vergelyk nie.” Name begin om van sy lippe af te rol. “Balie Swart, Os du Randt, Johan le Roux. Ruben Kruger – hy was ongelooflik – ou Ian McDonald was kliphard, Cheese van Tonder. Nee, jy kan nie, dis onregverdig. Hennie le Roux, Japie Mulder, Pieter Hendriks, James Dalton, Uli Schmidt, Chris Rossouw.”

Laasgenoemde drie almal hakers wat hom sy lynstaanbal gevoer het en vir ‘n slot om nie erkenning aan die nommer 2-trui te gee nie is so goed soos belastingontwyking.
Loopbaanverwyte? Soos vir Balie genoem word daar nie teruggegaan nie.

“Ek was geseënd om my beste vriende te kon maak met manne wie ek saam en teen gespeel het. Jy maak saam opofferinge, gee saam alles om sukses te behaal. Dit is net die ontydige beserings…”

Die Covid-19 epidemie eis sy tol, seg hy, en sy koffiehuise, Wiesenhof, voel dit. Hy mis sy rugby en hy mis dit om met die nasie daaroor te praat. Maar, voortbeur is sy motto en soos Derwyn sal die swaar tye ook leer: Jymorsniemetwiesenie.

Exit mobile version