Muurbal is sy leefstyl

Muurbal is so deel van Jimmy Schlebusch se lewe soos die daaglikse suurstof wat hy inasem.

Muurbal is so deel van Jimmy Schlebusch se lewe soos die daaglikse suurstof wat hy inasem.

Hierdie Potchefstromer is ‘n bekende top muurbalspeler en afrigter in die kontrei wie se liefde vir die sport al van kindsbeen af begin het.

“Ek het basies langs die muurbalbaan grootgeword. Beide my ouers het gespeel en my ma het ‘n muurbalkompleks bestuur toe ek nog kleuterskool ouderdom was. Ek was seker elke middag daar en as daar ‘n gaping was tussen die grootmense se wedstryde, was ek op die baan,” sê Schlebusch.

Hy is tans die NWU se muurbalafrigter en rig ook top juniors in die omgewing af.

“Afrigting het eintlik begin toe Muurbal Suid-Afrika my en ‘n paar ander spelers gevra het om muurbal in minder blootgestelde provinsies te bemark en te bevorder,” noem hy.  Indrukwekkende prestasies op sy kerfstok as speler sluit in oorsese toernooie teen top spelers van die wêreld soos die voormalige nommer een speler, Thierry Lincou, van Frankryk.

“Dit was ‘n gepakte galery en die TV kameras en alles was daar. Ek was baie op my senuwees, want hy was in ‘n heeltemal ander klas en ek was bang ek kry nie eers punte op die bord voor al die mense nie. Tot my eie verbasing het ek toe baie goed gespeel en nie net punte gekry nie, maar op ‘n manier ook ‘n stel by hom kon vat. Al het ek 3-1 verloor, was ek redelik trots, maar ook baie verlig,” onthou Schlebusch.

Vir Schlebusch is muurbal ‘n sport wat almal van jonk tot oud kan beoefen, aangesien dit baie sosiaal en liggaamlik gesond is

“Muurbal is gekeur as die gesondste sport ter wêreld en verbrand die meeste kalorieë per tyds eenheid – so in 30 minute kan jy ‘n baie goeie oefensessie inkry. Vir kinders gee dit absoluut ‘n voorsprong in terme van vaardigheidsontwikkeling vir ander sportsoorte,” verduidelik hy.

“Vir my moet hulle ‘n passie vir die sport hê. Hulle moet dus die dryfkrag hê en gewoond raak om hulself in ongemak te kan indruk wanneer hulle oefen. Hulle moet op hulle eie baie tyd op die baan spandeer,” verduidelik Schlebusch die nodige eienskappe wat hy in ‘n goeie speler soek.

Op plaaslike front beaam Schlebusch dat plaaslike spelers in die platteland glad nie hoef terug te staan nie en teen die bestes kan kompeteer en oorwin.

“Ons het regtig talentvolle juniors en studente hier in die platteland wat klaar hul merk gemaak het onder die top spelers in die land en ‘n professionele loopbaan kan maak daarvan.

‘n Groot persoonlike doelwit is ook om die NWU te help om die Universiteite Squash toernooi (USSA) te wen. Dit het nog nooit gebeur nie en in my opinie sou ons dit hierdie jaar vir die eerste keer kon wen, was dit nie vir Covid-19 nie.”

“In die laaste drie jaar het die SA Plattelandspan vrugte afgewerp in ‘n lang proses om van heel onder af die beste provinsie in die land te word. Drie jaar gelede het ons mansspan die interprovinsiale toernooi vir die eerste keer ooit gewen en toe weer in 2019.

In 2019 het ons damesspan dit ook vir die eerste keer in die geskiedenis gewen. Muurbal is dus baie sterk en gesond in die platteland.”

Volgens Schlebusch is Suid-Afrika nie te ver agter die groot muurballande van die wêreld nie en meer blootstelling sal ‘n groot verskil maak. “Ons het eintlik al baie goeie spelers opgelewer en onlangs ‘n speler gehad wat nommer 14 in die wêreld was. Ons spelers kort net meer blootstelling en die gewig van groot borge in die sport. Die struikelblok is ons afstand van die groot toernooie en ligas in Amerika en Europa. Spelers wat bereid is om hulself oorsee te vestig sal ‘n merk kan maak.”

Vir muurbal om wel as sport te groei, glo Schlebusch dat dit Olimpiese status moet bereik – verder is alle ander faktore reeds mooi in plek.  “Squash het in die laaste paar jaar reuse vordering gemaak ten opsigte van ander groot sportsoorte. Die toernooie oorsee het groot prysgeld en daar is baie professionele spelers in die wêreld. Die uitsaai kwaliteit van hierdie toernooie is uitstekend en daar kan enige plek ‘n baan opgeslaan word vir ‘n toernooi, self met die piramides in Egipte as die agtergrond! As sport is die enigste ding wat ons terughou die feit dat dit om een of ander rede nog nie ‘n Olimpiese sportsoort is nie. Dit sal muurbal werklik op die kaart plaas,” vertel hy ywerig.

Exit mobile version