Top plaaslike skolerugbyspelers mis uit op Cravenweek

Dit is n groot teleurstelling vir my. Dit was my droom om vanjaar Cravenweek te speel, asook eendag beroepsrugby.

Met die nuus dat vanjaar se Cravenweek gekanselleer is, is daar talle belowende rugbyspelers wat vanjaar nie hulle talente op die hoogste vlak sal kan wys nie.

In Potchefstroom mis daar veral belowende rugbyspelers soos Volkies se Bryan Bennet, Wendell Osuala en Marco Olivier uit. By Gimmies is Morne Stafford en Janu Brand ook ongelukkige spelers wat heel moontlik vir die Luiperds gekies kon wees.

Hier is hoe die spelers reageer op die nuus:

Wendell Osuala (losskakel)

“Ek dink enige skolerugby en provinsiale speler is baie teleurgesteld oor die feit dat die Cravenweek die jaar nie plaasvind nie omdat daar baie scouts by die toernooi is. Dit is ’n goeie platform om spelers te identifiseer en in hulle te belê. Dis ‘n toernooi waarvoor party spelers al van Graad 8 af na uitsien. Die realiteit is dat die pandemie almal benadeel so ek dink die belanrgrikste vir almal is net om fiks te bly en te hoop om gou weer op die veld te kom.”

Morne Stafford (heelagter)

“Ek is baie teleurgesteld dat die Cravenweek af gestel is want dit is nog altyd ‘n groot droom van my gewees. Ek kyk dit nog elke jaar dit op TV en droom om eendag daar te kan speel. Maar dis omstandighede buite my beheer. Ek werk maar hard vir volgende jaar se Varsity Cup.”

Bryan Bennett (regtervleuel, buitesenter)

“Dit is baie hartseer want ek het hard gewerk om weer hierdie jaar Luiperds te speel, indien ek weer gekies sou word. Rugby speel ‘n baie belangrike rol in my lewe en om jou laaste jaar te verloor wat jy saam jou vriende kon speel. Om te probeer verder naam bou maak dit soveel erger.”

Marco Olivier (flank, slot)

“Dit is n groot teleurstelling vir my. Dit was my droom om vanjaar Cravenweek te speel, asook eendag beroepsrugby. Met hierdie teleurstelling sal ek bly droom en intussen hou ek aan oefen.”

Exit mobile version