SportSport

Die speke sing vir NWU se fietsryfundi

Tog nes sy so gemaklik op haar fiets is geniet sy ook om fietsry in alle aspekte te bevorder as spanbestuurder en dit behels ‘n magdom verskeidenheid take.

Om fiets te trap was nooit vir die NWU se Fietsry-spanbestuurder, Nicolene Marais, ‘n vreemde gevoel nie.

Van 10-jarige ouderdom neem sy al aan Tweekamp en Driekamp deel en vanaf 13 het sy haar fokus spesiefiek op haar fiets geplaas, iets wat sy tot vandag toe nog elke dag koester met ‘n brandende passie wat binne haar borrel.

“Ek dink die beste aspek van NWU Fietsry, wat uit ‘n ledetal van 60 studente bestaan, is die gees en die bande tussen vriende. Mense wat op alle maniere verskillend is, verskillende belangstellings het en saam iets doen waarvoor almal lief is. Ek meen, dis hoe ek my toekomstige trouman ontmoet het in my 1ste jaar,” vertel die blondekop fietsryer.

Marais noem dat haar liefde vir die sport veral begin het toe sy aan die Spur Skolebergfietsreeks op skool deelgeneem het.

“In Hoërskool het ek slegs aan skoolsport deelgeneem en ‘n breek gevat van fietsry tot op die ouderdom van 15 waar ek weer aan die Spur Skole Bergfietsreeks begin deelneem het. Na twee jaar se deelname het ek bo geëindig en die titel vir Junior Skool en SA (provisiale wenner gekroon),” vertel sy.

In haar matriekjaar op skool het die Rustenburger weer haar dunwiele afgestof en die teerpad begin aandurf.

“Ek het in Januarie aan die Padfiets SA’s gaan deelneem en as o.18 Junior dame ‘n 2de en 3de plek gehaal. So het ek my dikwiel eers eenkant gesit en slegs op padfiets gefokus,” noem Marais.

Sy is toe vir die juniorgroepe wat vir twee weke in Europa gaan deelneem het en daarna weer vir die SA span vir die Wêreldkampioenskappe in Doha, Katar gekies.

“Tydens die Wêreldkampioenskappe het ek ‘n 49ste plek gehaal met sulke strawwe kompetisie, dat daar tussen my en die wêreldkampioen splitsekondes was,” onthou sy.

Haar indrukwekkende CV as fietsryer op skolevlak het vir haar toe ‘n platform gebou om ook op universiteitsvlak by die Noordwes Universiteit (NWU) op twee wiele te presteer.

“Ek is vanaf my 1ste jaar van Universiteit betrokke by NWU fietsry waar ek as n fietsryer self deelgeneem het en hier en daar gehelp met organisering en administrasie om ‘n suksesvolle NWU Fietsry jaar te handaaf,” vertel sy.

Hierdie suksesvolle jaar sluit in die twee 2de plekke sowel as ‘n derde plek in spanverband by die USSA’s in 2017. Sy behaal ook ‘n eerste plek en tweede plek by die Student Cup en ook ‘n derde plek by Varsity MTB saam met die voormalige Volkie fietsryster, Kristen “Nooi” Louw.

Marais is toe ook vir die FISU span (wêreldkampioenskappe vir studente) gekies om die kersie op die koek te plaas.

In 2018 het sy ten spyte van ‘n rugbesering steeds die NWU verteenwoordig en in 2019 hoofsaaklik as spanbestuurder opgetree en saam met spanmaat Ané Jacobs ‘n algehele vyfde plek by die Varsity Wine 2 Whales bergfietswedren behaal, wat een van die beste ervarings van haar lewe was.

Tog nes sy so gemaklik op haar fiets is geniet sy ook om fietsry in alle aspekte te bevorder as spanbestuurder en dit behels ‘n magdom verskeidenheid take.

“My take behels om studente bymekaar te kry. Gees en vriendskappe op te bou sodat studente gemotiveer word om ‘n gesonde studente lewe te handhaaf. Kampe, oefensessie, FTP toetse te reël, klerebestellings te doen en in te dien, borge soek, borge te vergoed, sosiale media te hanteer, verblyf, kos en vervoer te reël vir byeenkomste, kriteria op te stel om regverdig die beste moontlike span te kies vir USSA’s en om self net fiets te ry,” verduidelik sy breedvoerig.

Marais bieg ook dat die NWU al baie in fietsry gegroei het, maar ongelukkig nie met die fietsrykultuur en landskap in die Kaap kan kompeteer nie. Steeds verstom die NWU keer op keer weens hulle hegte eenheid en harde werk.

“Ek sal sê dat ons hulle wel ‘n go gee maar op die stadium sal NWU nie naby aan UCT of Maties kom nie. Die kanse dat ‘n junior professionele ryer Potch toe sal kom om te studeer is skaars, waar UCT en MATIES al die professionele fiestryers met hulle mooi omgewing, berge en van die beste fietsry roetes ter wêreld trek. Ons motiveer en ontwikkel studente wat wel belangstel om fiets te ry, hulle harte uit ry en altyd hul beste gee. Dan het Potch maar net sy handjie vol natuurlike kampioen inwoners wat deel vorm van ons span, wat ons gelukkig dra met briljante prestasies,” beaam sy.

Een aspek wat Marais wel mis is om aan kompetisies deel te neem en lang roetes te ry. Aangesien van die huidige COVID-19 epidemie sal die NWU fietsryspan se doelwitte vanjaar ook verander.

“Ons as NWU fietsry span sou aan die Maluti Double 90 (180km) deelgeneem het op 18 April in Clarens, maar as gevolg van COVID-19 is dit vir eers uitgestel en sal ons hopelik daaraan kan deelneem later in die jaar. USSA’s 2020 sou in Junie/Julie vakansie plaasgevind het, maar is ook vir eers gekanseleer.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button