Boekresensie: 89 Minute van Glorie – Die storie agter die NWU-Pukke se 2016 Varsitybekeroorwinning

Wouter Pienaar het in sy boek, “89 Minute van Glorie”, dit reggekry om met die intrapslag in sy voorwoord my te laat voel ek is op ‘n Maandagaand met ‘n Varsitybeker-wedstryd op die Fanie du Toit-stadion in Potchefstroom. Wie kan ooit vergeet van die hoendervleis-lekker as die Pukke opdraf in ‘n volgepakte Fanie en mens …

Wouter Pienaar het in sy boek, “89 Minute van Glorie”, dit reggekry om met die intrapslag in sy voorwoord my te laat voel ek is op ‘n Maandagaand met ‘n Varsitybeker-wedstryd op die Fanie du Toit-stadion in Potchefstroom.
Wie kan ooit vergeet van die hoendervleis-lekker as die Pukke opdraf in ‘n volgepakte Fanie en mens die atmosfeer met ‘n mes kan sny?
En al was ek nie daar nie, het Wouter met sy unieke skryfstyl dit reggekry om my ook te laat voel ek was op Stellenbosch met die eindstryd en die historiese oorwinning van die Puk oor die Maties.

Van die voorwoord af kon ek nie die boek neersit nie. Hy neem jou in die boek saam van die ontstaan van die rugby-instituut tot by 11 April 2016 toe die manne die trofee omhoog gehou het.

Op die reis na die Danie Craven-stadion vertel hy van die afrigtingspan, die fisiese en psigiese voorbereiding, die wedstryde wat gespeel is in die aanloop tot die eindstryd en alles kom mooi bymekaar met hoe belangrik hierdie glorieryke oorwinning vir die spelers en natuurlik die Puk was.

Baie gepas vertel Wouter ook van die laagtepunte. Die grootste hiervan was sekerlik 2014 toe die Puk reeds die eindstryd “gewen” het toe die Ikeys in die doodsnikke ‘n wendrie gaan druk het. Daar is ‘n spreekwoord: “You have never lived until you have almost died” en vir ons wat daar was toe die Puk daardie dag so hartverskeurend verloor het, was 2016 so genesend soos min. Eers as jy ook al verloor het kan jy die smaak van wen behoorlik waardeer.

Wouter kry dit deurgaans in sy boek reg om jou te laat voel hoe belangrik hierdie wen vir die Puk was en hoe dit in die kleine vir hulle ‘n 1995-wêreldbeker-oorwinning was.

Wat my deurgaans getref het in die boek is die emosie wat gepaardgaan met die vertellings van afrigters, spelers en administrateurs. Van ‘n knop in die keel en van trane.
Wouter het die kuns om dit so oor te vertel dat mens, terwyl jy die boek lees, die knop in die keel voel kom.Die boek is beslis ‘n bêrestuk wat elke Puk-rugbyondersteuner gerus kan aanskaf, mooi afgerond met koerantberigte en foto’s en inligting oor die wenspan van 2016!

Resensie: Hennie Stander

 

Exit mobile version