Pluimbalkampioen wil NWU en sy land trots maak in Afrika

“Dit sal fantasties wees om die beste in Afrika te word. My doelwitte is beslis om ‘n medalje in enige kleur te behaal. Goud sal natuurlik die eerste prys wees,

Daar kan gerus vir die NWU pluimbalspeler Ruan Snyman (20) ‘n pluimpie gegee word, aangesien hy vanjaar nog nie ‘n enkelsswedstryd in SA verloor het nie en die titel van die nommer een speler in die land beklee.

Snyman gaan nou al sy SA sukses in Afrika wil dupliseer wanneer hy vanaf 16-31 Augustus by die Afrika Spele in Marokko teen die kontinent se beste spelers vir goue glorie kompeteer.

“Dit is ongelooflik en ek kan nie wag vir die Afrika Spele nie. Ek werk al my hele lewe om Suid-Afrika by so ‘n groot toernooi te kan verteenwoordig,” noem Snyman, wat al 11 jaar lank pluimbal beoefen.

Ruan Snyman

“Dit sal fantasties wees om die beste in Afrika te word. My doelwitte is beslis om ‘n medalje in enige kleur te behaal. Goud sal natuurlik die eerste prys wees,” vertel Snyman, wat teen lande soos Egipte, Nigerië en Algerië gaan deelneem.

Volgens Snyman is die geleenthede in Suid-Afrika vir pluimbalspelers beperk en is blootstelling in top kompetisies en oefenkampe oorsee van ontsettende waarde in die groei van ‘n speler.
Snyman het al pluimbal in Marokko, Botswana, Kameroen, Spanje, Peru en Maleisië gespeel en het ook al in Denemarke gaan oefen om sy spel te verbeter.

“Daardie was alles goeie ondervinding en ek het ongelooflik baie daar geleer. Pluimbal is groot in Denemarke,” noem Snyman, wat aan Hoërskool Wonderboom gematrikuleer het.
Hierdie NWU-student, oefen 2-3 keer per dag, wat ongeveer 5-6 ure is. Dit kan min of meer afgerond word tot 30 ure per week.

“Voor die Afrika Spele oefen ons nog harder by die SA-oefenkamp in Benoni om ons fiksheid en vaardigheid op te bou,” sê Snyman, wat onder die afrigting van SA afrigter, Stewart Carson, floreer.
Snyman gaan in die senior-kategorie taai kompetisie hê, maar hy is gereed vir enige uitdaging aangesien hy hard oefen en ‘n massiewe passie vir die sport het.

Die SA Pluimbalspan wat in Marokko by die 2019 Afrika Spele deelneem.

Snyman het ook reeds vanjaar die enkels, dubbels en gemengde dubbels-titels by die USSA-kampioenskappe gewen en het ook die Benoni, Durban, Pretoria en Kaapstad-ope’s verower – definitief genoeg oorwinnings om sy selfvertroue die hoogte te laat inskiet.

“Vanjaar is regtig sover ‘n baie goeie jaar vir my. My droom sal wees om die top 30 in die wêreldranglys te bereik en eendag vir die Wêreldkampioenskappe en Olimpiese Spele te kwalifiseer,” noem hy verder.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version