SportSport

Mooirivier se o.13 netbalspan verras groot kanonne met tweede plek

Die span het deurgedring na die finale ronde van die kompetisie en moes slegs die knie buig voor die uitmuntende span van Laerskool Menlopark met 18-8 in die eindstryd.

Laerskool Mooirivier se o.13A-netbalspan was die Noordweswenners en het Vrydag en Saterdag, 26 en 27 Julie in Boksburg aan die SA-laerskole spankompetisie deelgeneem.

Dié Tokkies het bewys dat hulle nie net in die provinsie kan meeding nie en het op nasionale vlak gewoeker. Die span het deurgedring na die finale ronde van die kompetisie en moes slegs die knie buig voor die uitmuntende span van Laerskool Menlopark met 18-8 in die eindstryd.

Martie Schoonwinkel, Laerskool Mooirivier se o.13A-netbalafrigter, noem met ywer dat hierdie span een is om dop te hou.

“Hierdie kinders het ongelooflike potensiaal en baie natuurlike talent. Hulle is baie sportiewe kinders en het gewys wat hulle kan doen by die SA toernooi,” vertel dié afrigter wat 36 jaar ervaring as netbalafrigter het.

Mooirivier het verlede jaar 5de by die SA toernooi geëindig en wou hierdie jaar een stap verder gaan nadat hulle die eerste doelwit as Noordweskampioene bereik het.

“In Potch kry ons netbalspelers nie soveel harde wedstryde soos ander top skole van die stad nie. Ons het toe besluit om vanjaar aan die gesogte George-skolenetbaltoernooi deel te neem om ons vir SA’s voor te berei.

Om ons koppe sterk te kry was ook baie belangrik,” voeg Schoonwinkel by. Die George-toernooi was vir hierdie o.13A-span wat 3de geëindig het, van onskatbare waarde. Wierdapark (Centurion) en Constantiapark (Pretoria) het hier die eerste en tweede plekke geneem.

“Ons het op ons goeie vertoning in George gebou en tydens die SA’s van die grootste en sterkste skole geklop. Elke punt was hard om voor te werk en ons kinders het op die einde van die dag mooi kopgehou.

“Netbal is my passie. Die motivering en passie wat die kinders gewys het was absoluut ongelooflik,” sê Schoonwinkel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button