Blou Bulle gaffel Luiperds o.21’s op Olënpark

Die Luiperds kon nie hulle tuisveld-voordeel benut nie en moes toekyk hoe die Bulle die toutjies trek op Olënpark.

Die Luiperds se jong o.21-span het die afgelope naweek hulle vierde wedstryd in ‘n ry verloor toe hulle met 38-6 teen die Blou Bulle o.21’s klei getrap het.

Die Luiperds kon nie hulle tuisveld-voordeel benut nie en moes toekyk hoe die Bulle die toutjies trek op Olënpark.

Die besoekers het vyf drieë gaan druk met Cabous Eloff, Hanru Sirgel, Wian van Niekerk, Lian du Toit en Jay Cee Nel wat oorduik.

Die enigste puntemaker van die Luiperds was André van der Berg wat twee strafskoppe oorklits.

Nadat die Luiperds o.21’s die seisoen so goed met ‘n oorwinning teen die Sharks afgeskop het, het die seisoen nou ‘n afdraende pad geword en hulle sal vinnig moet rem slaan om weer op die wenpad te kom.

Die Luiperds o.21’s kom môre (14:00) teen die Sharks in Durban op Kings Park te staan en sal weer vir ‘n opskudding wil veroorsaak.

Foto’s: Chrisna Mentz/pixC photography

Exit mobile version