One on One: Martiné Jordaan

Martiné is ‘n speler wat letterlik en figuurlik onmisbaar op die netbalbaan is, met haar flink en doelgerigte spel, hope natuurlike talent en skerp taktiese brein.

Keer op keer troon die lang en lenige figuur van Gimmies se netbalster, Martiné Jordaan, bo die ander netbalspelers uit wanneer sy die baan betree. Martiné is ‘n speler wat letterlik en figuurlik onmisbaar op die netbalbaan is, met haar flink en doelgerigte spel, hope natuurlike talent en skerp taktiese brein.
As Martiné in jou span is, dan weet jy sommer dat die opposisie gaan swoeg en sweet vir elke punt wat hulle moet aanteken. Hierdie verdediger is rotsvas in die sirkel en speel die spel om te wen en elke keer te verbeter – geen wonder dat sy dan sodoende in die Top 35 gekies is in haar eerste SA Skole Netbaltoernooi die afgelope vakansie nie.

“Dit was fantasties om gekies te word en dit is vir my werklik ‘n groot hoogtepunt. Ek het baie ervaring opgedoen en dit is nogal ’n groot ding om in die top 35 van die land gekies te word,” beklemtoon sy.

By hierdie toernooi is daar ook keurders van regoor die land wat elke netbalspelers volgens die nommer op haar klere beoordeel. Hierdie groep word dan na die top 12 verminder wat dan effektief as ’n SA-span gesien kan word.
Vir Martiné is netbal iets wat sy al van kindsbeen af beoefen en elke jaar bevorder.

“Ek het op Laerskool Bailliepark netbal gespeel en van kleins af met dit grootgeword. Dit is die sport wat ek die meeste geniet. Ek geniet dit ook om doel te speel, maar ek verkies verdediger,” noem Martiné wat soms in ‘n wedstryd tussen doel en verdediger, indien nodig, skuif.

“Ek is baie perfeksionisties so ek voel dat ek altyd meer kan gee. So ek gee altyd my beste en verwag dieselfde van my spanmaats. Natuurlik is harde werk ook baie belangrik,” vertel Martiné wat 8 ure per week op die netbalbaan spandeer.

Vir nou is Martiné se doelwit om so lank as moontlik haar skolenetbal te geniet en die spel te kan speel tot sy nie meer kan nie.
“My doelwit is om mense te wys dat enige iets moontlik is. Ek het al in Graad 10 vir die o.19 dogters (eerste span) gespeel. So as ek dit kan doen kan dit ander ook inspireer om buite die boks te dink en nie ingeperk te wees nie.”

Na hope wedstryde en hoogtepunte in ’n Gimmies netbalrok staan daar steeds een hoogtepunt vir Martiné uit.
“Die 2018 Classic Clash wat ons by Gimmies gewen het, bly vir my ‘n groot hoogtepunt. Dit was my eerste Classic Clash vir die eerste span en dit sal altyd by my bly.”

Exit mobile version