Van Zyl maak Volkies trots in Nederland

"Die mense hier is baie vriendelik en ek leer baie oor die manier waarop die atlete hier oefen. My hoogtepunt sover was beslis die bronsmedalje in die sewekamp."

Volkskool se veelsydige atleet, Anina van Zyl, het onlangs die land van windmeule en klompe betree en beslis haar Suid-Afrikaanse merk op die land van haar voorgeslagte gemaak.

Anina neem tans vanaf 7 Junie in Nederland by verskillende plaaslike ligas deel nadat afrigter, Peter Wolters, en die bekende Nederlandse 800m vroueatleet, Sanne Verstegen, haar genooi het. Wolters rig haar ook tydens haar Nederlandse atletiekavontuur af.

In haar eerste byeenkoms in Grotebroek behaal sy ‘n nuwe persoonlike beste tyd in die 150m met die klok wat op 19,8 sekondes stop. In haar tweede byeenkoms in Amstelveen neem sy aan ‘n meerkampbyeenkoms deel en behaal ‘n uitstekende derde plek met 3 246 punte in die sewe items.

Die kersie op die koek is ‘n seisoen beste prestasie in hoogspring, spiesgooi en die 800m.
In Utrecht, geboorteplek van die bekende Nederlandse sewekampatleet, Dafne Schippers, wys Anina weer haar staal met ‘n 13,24 sekonde tyd in die 100m – nog ‘n seisoensbeste.

“Dit is die eerste keer wat ek oorsee is en dit is ‘n absolute ongelooflike ervaring. Die mense hier is baie vriendelik en ek leer baie oor die manier waarop die atlete hier oefen. My hoogtepunt sover was beslis die bronsmedalje in die sewekamp,” noem Anina trots vanuit Nederland voor haar laaste byeenkoms.

Atletiek in Nederland is klub-gebaseer en die aksie is baie mededingend waar groot trots en prestasie tussen atletiekklubs op die spel is. Daar is ook nie skoleatletiek nie en jong atlete neem in klubverband op ‘n krag teen krag basis deel.

Volgens Anina se ma, Maritha, wat haar op haar Nederlandse reis vergesel, word deelnemers volgens tye teen mekaar geplaas. Sodoende kan dogters en seuns aan dieselfde wedloop deelneem, ongeag hulle ouderdomme.

“Dit is ‘n meetbare manier om te sien op watter vlak jy tans is. Die atlete hier werk baie harder en sien atletiek as ‘n leefstyl,” sê Maritha verder. Anina het in 2017 in kontak gekom met Wolters en Verstegen, danksy haar voormalige afrigter, Richardo Ellis.
Dié Nederlanders het in Potchefstroom geoefen en daar het toe ‘n vriendskap ontstaan. Anina kon nie hierdie uitnodiging van die hand wys nie en nou skitter sy tussen die top Europese atlete.

“Die blootstelling wat ek hier kry is werklik ongelooflik en dit is baie inspirerend om saam met atlete soos Bianca Baak (Nederlandse 400m–atleet) te oefen en raad te kry. Die mense hier het my van die begin af baie tuis laat voel. Ek het beslis my doelwitte hier in Nederland bereik.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version