One on One: Riaan May

"Aan die begin van hierdie jaar was ek in Georgië, ’n land met ’n groot liefde vir rugby, en dit is hier waar ek my inspirasie en lus om my tokse weer aan te trek, gevind het."

Rugby, regte, natuur en avontuur is enkele woorde wat Riaan May, die Potchefstroom Dorp Rugbyklub flank/agsteman die beste beskryf.
May het vanjaar sy debuut vir die Potch Dorp Rugbyklub op die ouderdom van 24 gemaak, nadat hy vir ’n lang ruk ’n breek van rugby gevat het.

“Ek het nadat ek vir die o.19-Puk-span gespeel het, opgehou rugby speel, maar ek het wel ’n paar wedstryde vir Heimat-manskoshuis gespeel. In hierdie tyd was ek in die proses om by die Britse weermag aan te sluit, maar weens veranderinge in regulasies (Suid-Afrikaners kon nie meer aansluit sonder burgerskap nie), het ek besluit om liewers op my studies te fokus.”, sê May.

“Aan die begin van hierdie jaar was ek in Georgië, ’n land met ’n groot liefde vir rugby, en dit is hier waar ek my inspirasie en lus om my tokse weer aan te trek, gevind het.”, voeg May by.

Hoewel die flank/agste man nog relatief nuut in die span is, het hy al verskeie kere deur die loop van die seisoen die Potch Dorp span op die veld gelei.

“Ek speel rugby om dit te geniet en ek hou van die fisiese aspek van rugby, sowel as die geleentheid wat dit bied om nuwe mense te ontmoet en kontakte en vriende vir lewe te maak.”

’n Liefde vir rugby hardloop in die May-familie se bloed, met May se pa, adv. André May, wat van April 2010 tot April vanjaar (nege jaar) as President van die Luiperds Rugbyunie gedien het.

Net soos sy pa, wat deel van die North-West Bar Association is, het May ook in Regte in gegaan. Hy het LLB aan die Noord-Wes Universiteit studeer waarna hy ’n regskool in 2018 bygewoon het. Hy het onlangs as kandidaatprokureur by Butler Prokureurs klaargemaak en spandeer nou meeste van sy tyd aan ’n nuwe projek om ’n restaurant in Potchefstroom oop te maak.

“Ek het groot liefde vir alternatiewe plekke met goeie kos, bier en natuurlik die beste koffie.Potchefstroom benodig ’n alternatiewe plek vol nuwe idees vir die werkende klas, sowel as studente.

Vir ontspanning hou May daarvan om saam met sy Duitse Korthaar Pointers te gaan voëls skiet en hy gaan stap graag roetes in hoë geleë gebiede.

Lizaan Snyman

Exit mobile version