SportSport

One on One: Gustav Erlank

Die eer om jou land se top universiteitespan in Italië by die 2019 Somer Universiade te verteenwoordig val nie sommer in enige iemand se skoot nie.

Die eer om jou land se top universiteitespan in Italië by die 2019 Somer Universiade te verteenwoordig val nie sommer in enige iemand se skoot nie.

Vir die NWU se jong sewesspeler en voormalige Volkie Cravenweek-vleuel, Gustav Erlank, is dit ‘n geleentheid wat hy met altwee hande gaan aangryp wanneer hy eersdaags na Napels vlieg om SA in die USSA Sewesrugbyspan vanaf 3-14 Julie te gaan verteenwoordig.

Vir Erlank was dit ‘n groot verrassing om vir SA se top studente-sewesspan gekies te word, aangesien hy nog net ‘n paar maande vir die NWU se sewesspan speel.

“Dit is ‘n massiewe eer vir my en net om die span te haal was vir my baie groot. Daar is ervare spelers soos Eugene Hare wat ook in die span is, dit is vir my goed om net ervaring te bou en my beste te gee in Italië,” sê Erlank wat tans ‘n eerstejaar MBW en Sportafrigting-student op die NWU is.

Die Somer Universiade vind elke tweede jaar plaas en kan as die Olimpiese Spele van studente gesien word.
Daar sal verskillende sportsoorte onder andere sokker, atletiek en boogskiet plaasvind. Erlank-hulle sal teen Argentinië, Roemenië, en Rusland in Poel A te staan kom.


SA sal natuurlik met hulle sewestalent op studentevlak ook een van die gunstelinge wees – veral met die gesiene Dr. Pieter van den Berg (NWU) wat aan die stuur van sake as afrigter is.

“Dr. Pieter van den Berg, werk op my sterk punte en dit staan vir my uit in sy metode van afrigting,” noem Erlank, wie se spel op Hoërskool onder die leiding van Volkies se afrigtingsduo, Daan Seymore en Christo van Heerden geskitter het.

“My liefde vir rugby het gegroei onder Mnr Daan en Mnr Christo en in matriek het André Pretorius en Mnr. (Johan) Herbst ook ‘n groot invloed gehad. Ek het goed teruggekom in die eerstespan nadat ek op o.16-vlak lank met ‘n besering uit was,” vertel hy.
Erlank se groot liefde bly sewes, juis omdat dit vir hom ruimte en spasie gee om sy natuurlike spel te kan speel.

“Ek hou definitief meer van sewes wat vol spoed en adrenalien is. So ek sien baie uit na die sewestoernooi in Italië,” sê Erlank wat die keurders se oë tydens ‘n sewestoernooi by Tukkies getrek het.

“Daar is nog ‘n lekker lang seisoen voor wat die Varsity Sewes ook insluit. Daar is nog baie rugby om te speel en ek wil elke oomblik geniet. Ek wil elke keer die volgende vlak op die rugbyveld bereik.”

Dit is die (Er)lank en die kort van dit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button