SportSport

Puik swemmers is deel van SA se uitgesoektes

Nadia Blaauw is in die SA Oopwaterspan in die senior-kategorie vir die komende 2019/20 seisoen vir die 10 km opgeneem. Bianca Opperman, ‘n leerder van Potchefstroom Girls High is in die Senior Youth swemspan opgeneem.

Twee van Potchefstroom se top swemmers, Nadia Blaauw (NWU Swemklub) en Bianca Opperman (Potch Swemklub) is in verskeie SA Nasionale swemspanne opgeneem.

Blaauw is in die SA Oopwaterspan in die senior-kategorie vir die komende 2019/20 seisoen vir die 10 km opgeneem. Opperman, ‘n leerder van Potchefstroom Girls High is in die Senior Youth swemspan opgeneem.

Nadia Blaauw
Nadia Blaauw

Sy is dus deel van die land se top swemmers in haar ouderdomsgroep. Opperman het vanjaar ‘n briljante seisoen beleef en by die SA Junior Swemkampioenskappe twee silwer en drie goue medaljes gewen. Sy het ook by die SA Senior Swemkampioenskappe in verskeie finale geswem wat uitmuntend vir ‘n Graad 11-leerder is.

Vir beide swemmers is hierdie uitstekende prestasies iets wat van harde werk, sukses en lang ure in die water getuig.
Volgens Blaauw is dit vir haar opwindend om as deel van die verskeie groepe gekies te kon word en voel sy dat sy een van haar mikpunte bereik het.

“Daar is ’n moontlikheid dat ek in een van die spanne is wat oorsee gaan deelneem. Daar is nie regtig baie groot byeenkomste hierdie jaar nie, behalwe USSA’s vir gewone swembad swem. Ek hoop om daar saam met my span goed te vaar. My doel is om dit ook te geniet en nie te hard op myself te wees nie,” noem sy.

Bianca Opperman
Bianca Opperman

Opperman is self ook in haar noppies dat sy die SA-span gehaal het.
“Ek is beslis baie gelukkig en trots. Ek sien dit as ’n wen, maar dit gaan nie help om nou fees te vier nie. Dit is meer net motivering om nog harder te oefen en nog vinniger tye te jaag. Die span is basies ‘n High Performance Squad van SA. Ek gaan saam die span op oefenkampe gaan en wanneer daar ’n internasionale kompetisie is vir my groep (Senior Youth) word ek in aanmerking geneem om te gaan,” vertel Opperman.

Dit was ook vir hierdie top swemmer ietwat van ’n verrassing toe sy die goeie nuus gehoor het.

“Ek het nie geweet die span gaan bekendgemaak word nie en dit was eintlik nogal ’n groot verrassing toe my afrigter bel om te laat weet. Ek werk tans om by die Olimpiese uitdunne (volgende jaar April) Olimpiese kwalifiserende tye te swem in die 100m borsslag, vryslag en heel moontlik vlinderslag. Dit is nog redelik vinniger as my beste tye, maar ek wil vanjaar teen Desember die B-kwalifiserende tye behaal.”

Related Articles

Back to top button