September verlaat Luiperds vir Griekwas in Mei

Vir Chriswill September was die groot trekpleister om ook in die Curriebeker Premierdivisie te kan speel en op ‘n meer kompeterende vlak te kan deelneem.

Die Luiperds se kaptein vir die Supersport Uitdaagreeks vanjaar, Chriswill September, het besluit om sy groen en rooi trui vir ’n Poubloue te ruil met sy skuif na die Griekwas toe. September was vir die afgelope vyf jaar betrokke by die Luiperds en die NWU se Varsitybekergroep en het as senior speler en skrumskakel ‘n groot impak in Potchefstroom gemaak. Die Worcester-boorling se skakelvennootskap met Schalk Hugo was ook een van die opwindendste dinge om op ‘n rugbyveld te aanskou. September sluit nou aan by voormalige NWU-spelers, Gideon van der Merwe en Wilmar Arnoldi by die Griekwas.

Verder sal hy ook saam met sy kleinnefie, Michal Hazner op die rugbyveld in dieselfde span kan speel.
September noem dat hierdie geleentheid by die Kimberley-unie al ‘n geruime tyd ter sprake was, maar eers na die Luiperds se wedstryd teen die Pumas gerealiseer het.

“Van laasjaar af het ek gehoop om na ‘n groter unie toe te gaan en is baie dankbaar dat die geleentheid gekom het,” noem September, wat 52 keer vir die Luiperds uitgedraf het.

Vir September was die groot trekpleister om ook in die Curriebeker Premierdivisie te kan speel en op ‘n meer kompeterende vlak te kan deelneem.

“As skrumskakel was Sarel Pretorius lank daar en het goeie rugby gespeel. Tian Meyer wat nou vir Cheetahs speel is op goeie vorm. Kyle Steyn het nog verlede jaar of twee jaar gelede vir Griekwas gespeel en nou speel hy Pro 14. Springbokke soos Zane Kirschner en Bjorn Basson is ook ouens wat hulle rugby daar na ‘n ander vlak toe geneem het. So die geleenthede is wat ek daarvan maak.”

“Natuurlik bied die skuif vir my die geleentheid om Curriebeker Premierdivisie te speel en hopelik kan ek my kans kry daarvoor,” sê hy. September noem ook dat hy sy tyd by die Luiperds ongelooflik geniet het.

“Ek moet baie dank vir die unie gee vir hulle bydrae tot my groei as ‘n topspeler. Jy kom hier met talent, maar hulle ontwikkel jou so goed as ‘n speler en het geduld met jou. Ek het fantastiese afrigting gehad oor die jaar, wat my groei as ‘n rugbyspeler moontlik gemaak het. Ek verlang reeds na my spanmaats en vriende wat ek in Potch gemaak het. Dit is lewenslange vriende wat ek gemaak het. Alles in Potch was naby, die lewenskoste is nie duur nie en as jy uitgaan, weet jy dat jy iemand ken en ‘n lekker tyd gaan hê,” sê hy.

Exit mobile version