Karatekampioen gereed vir Japanese avontuur

"My mikpunt by die wêreldkampioenskappe is om goud te kry in die gevegskategorie en in die span gevegskategorie."

Dit was net ‘n kwessie van tyd voordat die jong karateka van Steyn Dojo in Potchefstroom, Marco Botha, teen van die wêreld se bestes kompeteer na ‘n goue begin vanjaar. Marco gaan vanaf 19 tot 25 Augustus in Japan aan die WSKF (Wêreld Shotokan Karate-Do Federasie) internasionale kompetisie deelneem nadat hy plaaslik met puik prestasies beïndruk het.

Marco, ‘n Graad 11-leerder aan Hoërskool Ferdinand Postma, het by die SA Karatekampioenskappe in Kaapstad op 16-17 Maart met ‘n eerste plek en gouemedalje in die Nasionale Kadet (16-17 jaar) o.61kg kumite-afdeling sy eerste nasionale titel verower.

“Ek was nogal verras toe ek wen. Ek wou nog altyd onder die top 10 wees en omdat ek die goud gewen het, het ek die tiende plek op die rangleër. Ek is nou vyfde in die land in die 16-17 jaar-kategorie onder alle gewigsklasse,” sê Marco, wat al sedert sewejarige ouderdom karate doen.

“In my divisie was daar omtrent sewentien deelnemers. Die eindstryde word op aparte bane gehou, waar daar kameras is waar jy mooi kan sien hoe jy punte gekry het.”

Volgens Marco geniet hy die kompetisies die meeste en is tans ‘n bruin 1 belt. Die volgende belde in Marco se visier is ‘n bruin 2, bruin 3 en swart belt. Hy noem ook dat sy afrigter, Sensei Stephan Steyn van Steyn Dojo, ‘n groot impak op sy karateontwikkeling maak.

“Stephan is regtig ‘n goeie mens en hy het uitstekende karatekennis. Hy gee regtig om vir ons en bou daardie konneksie met sy studente,” vertel Marco.

“Ek kan met trots sê dat Marco hard gewerk het en ontwikkel het tot een van die opwindendste jong karateka by ons,” noem Stephan Steyn, Marco se sensei.

“Sy karatekennis en begrip van die kuns is duidelik en hy behandel seniors met behoorlike respek tydens klasse. In hierdie verband dikteer die vyf beginsels van karate Marco se benadering tot die lewe, binne en buite die Dojo,” noem Stephan. Hierdie vyf beginsels is karakter, opregtheid, moeite, etiket en selfbeheersing. Marco het Steyn Dojo se mees gesogte Dojo-trofee in 2017 ontvang, naamlik die Reon du Plooy trofee. Hierdie trofee word toegeken aan die student wat voortdurend die vyf basiese beginsels uitbeeld.

“My mikpunt by die wêreldkampioenskappe is om goud te kry in die gevegskategorie en in die span gevegskategorie, maar in die kata wil ek net ‘n plek kry,” sê Marco, met ywer op sy gesig.

Exit mobile version