Potch se Elroy Gelant wen eerste Twee Oseane-titel

“Ek dink die manier waarop ek gewen het was baie spesiaal. Ek het baie selfvertroue gehad en sterk gevoel,” vertel Gelant, wat graag vanjaar ‘n sub 60 minute in die 21km wil hardloop.

Die bekende Potchefstroomse middel- en langafstant-atleet, Elroy Gelant, het nog ‘n veer in sy indrukwekkende hoed, nadat hy die 21km halfmarathon-afdeling Twee Oseane-wedloop in Kaapstad gewen het.

Gelant van die Boxer Atletiekklub het die afgelope Saterdag, 20 April, sy gedugte teenstanders, wat Jobo Khatoane, Stephen Mokoka, David Manja, Thabang Mosiako en Joel Mmone insluit, uitoorlê om sy eerste Twee Oseane-titel te verower.

Gelant het met ‘n uitdrukking van vreugde en vrede oor die wenstreep in ‘n indrukwekkende tyd van 01:03:19 gesnel. Die tydverskil tussen hom en Khatoane in die tweede plek was slegs 11 sekondes, met Mokoka wat 16 sekondes na Gelant in die derde plek was.

“Ek is baie bly en verlig met die wen. Dit was een van my doelwitte om die 21km by die Twee Oseane te wen. Ek was tweede in 2016 en 2017, so dit voel goed om vanjaar eerste te kom,” noem Gelant. Volgens hom was die wedloop soos ‘n skaakwedstryd met klomp taktiese skuiwe wat die gedugte atlete teen mekaar gemaak het.

“Ek dink die manier waarop ek gewen het was baie spesiaal. Ek het baie selfvertroue gehad en sterk gevoel,” vertel Gelant, wat graag vanjaar ‘n sub 60 minute in die 21km wil hardloop. Sy persoonlike beste tyd oor die afstand is 01:01:10 wat hy in Kopenhagen in Denemake in 2014 opgestel het.

“Ek wil graag die SA rekord oor die afstand breek. Dit is my volgende mikpunt,” noem Gelant, wat in 2017 die SA-titel in die 10 000m in Potchefstroom verower het. Die huidige rekordhouer is die legendariese Hendrick Ramaala, met ‘n tyd van 1:00:07 wat hy in Slowakye in 1997 opgestel het. In 2013 was Gelant die enigste SA atleet wat in vier verskillende dissiplines, naamlik landloop, half-marathons en binne-en buitemuurse atletiek Suid-Afrika verteenwoordig het.

Exit mobile version