NWU klop 14-man Shimlas in woeste Varsitybekerstryd

Die NWU het vir die eerste keer in ‘n dekade vir Shimlas in Bloemfontein geklop vanaand (Maandag, 25 Februarie) met ‘n klipharde 26-13 oorwinning. Die telling het die NWU effens gevlei in ‘n wedstryd wat 100km/h van die eerste tot laaste minuut verloop het. Soos ‘n adrenalien gevulde skaakstryd het elke span hulle troefkaarte en …

Die NWU het vir die eerste keer in ‘n dekade vir Shimlas in Bloemfontein geklop vanaand (Maandag, 25 Februarie) met ‘n klipharde 26-13 oorwinning.

Die telling het die NWU effens gevlei in ‘n wedstryd wat 100km/h van die eerste tot laaste minuut verloop het. Soos ‘n adrenalien gevulde skaakstryd het elke span hulle troefkaarte en skuiwe gehad maar die NWU het die druk die beste hanteer en die belangrikste oomblikke in die wedstryd gewen.

Oortollige hanteringsfoute en die feit dat Shimlas met 14-man vir 30 minute moes speel het hulle op die ou einde seergemaak, ten spyte dat  hulle balbesit oorheers het. Die NWU se verdediging en spel in die losgemaal was van uitstaande gehalte en hulle het bewys dat hulle hard werk om slegs een drie af te staan.

NWU was eerste op die voorvoet toe regtervleuel, Pienaar van Niekerk, vir sy tweede drie van die seisoen gemaklik oorduik.

Shimlas het op tuisveld wel vinnig hulle stempel ook afgedruk toe plaasvervanger senter, Tiaan Schutte, slegs ‘n minuut nadat hy die veld betree het, sy eerste drie van die seisoen ingepalm het. Die telling was toe 7-7 met albei spanne kop aan kop na die eerste 10 minute.

Shimlas het die balbesit gedomineer met ‘n verstommende 72% met die skrumskakel, Zinedene Booysen en losskakel Lubabalo Dobela wat die toutjies getrek het. Desperate verdediging van die NWU het wel in die eerste 20 minute sake gelyk gehou.

Strafskop na strafskop het Shimlas wel nie pale toe gekorrel nie en eerder met skrums en lynstane probeer om 5 punte aan te teken. Dit het wel misluk met die NWU se rotsvaste verdediging wat aanvalle toegesmoor het.

Shimla-flank, Janco Cloete, het in die 28ste minuut ‘n geel kaart gekry toe hy doelbewus ‘n rolmaalbeweging gestop het. ‘n Strafdrie is toe toegeken en het ook die besoekers sodoende die geleentheid gegee om hulle spelervoordeel te benut.

Teen halftyd was die telling 14-7 in die NWU se guns en die besoekers sou bly wees om voor te loop na ‘n swakker eerste helfte waar hulle omtrent heeltyd moes verdedig en 72 duikslae moes uitvoer – iets wat deur die loop van die aand vermeder het.

‘n Rooikaart vir die Shimlas-slot, Mervyn Roos, nadat sy span teen die NWU se doellyn was, het die tuisspan geen guns gedoen nie. Roos het met ‘n stywe skouer in die speler van die wedstryd, Schalk Hugo se kopvasgenael en is summier afgestuur na ‘n TV-skeidsregter sake bekyk het.

Die NWU het toe in die 56ste minuut die telling vergroot toe AK Nela oorduik om sy span ‘n 12-punt voorsprong te gee.

Dobela het met ‘n strafskop die telling na 19-10 gebring, maar kon inderwaarheid ‘n drie self gaan druk het, as dit nie vir sy eie bottervingers met ‘n oop doellyn voor hom, was nie.

Shimlas het wel moedig geveg om al hoe nader aan die NWU te kom. Dit was net onnodige hanteringsfoute en sterk verdediging wat die aanslae in ‘n woeste laaste 10 minute gekeer het.

Die NWU het wel die laaste sê gehad toe kaptein, Chucky van der Westhuizen, die bal 5 meter vanaf sy eie doelgebied steel en ‘n strafskop vir die NWU wen. ‘n Vinnige skop van Hugo het meters veld vir die Potchefstromers gewen, waarna hulle weer ‘n strafskop die keer in Shimlas se kwartgebied gekry het. Hugo het toe sy visie bewys en ‘n dwarsskop in die hande van linkervleuel Lungelo Gosa geskop vir die vierde en sege-beklinkende drie in Bloem.

 NWU:  26 (14)

Drieë: Pienaar van Niekerk, Strafdrie, AK Nela, Lungelo Gosa

Doelskoppe: Schalk Hugo (2)

 Shimlas: 13 (7)

Drieë: Tiaan Schutte

Doelskoppe: Lubabalo Dobela (1)

Strafskoppe: Dobela (2)

 

Exit mobile version