Volkies se lopievraat en kaptein duisend verskuif grense

Lopies val vanjaar soos manna uit die lug vir Hoër Volkskool Potchefstroom se o.15A-krieketkaptein en linkerhandse kolfsensasie, Niel Jansen van Vuuren. Met 1090 lopies agter sy blad en ‘n ongelooflike kolfgemiddeld van 109 wat 4 honderdtalle, 5 vyftigtalle en ‘n hoogste telling van 133* teen KHS insluit, het hierdie aanvangskolwer behoorlik aan sy opponente se …

Lopies val vanjaar soos manna uit die lug vir Hoër Volkskool Potchefstroom se o.15A-krieketkaptein en linkerhandse kolfsensasie, Niel Jansen van Vuuren.
Met 1090 lopies agter sy blad en ‘n ongelooflike kolfgemiddeld van 109 wat 4 honderdtalle, 5 vyftigtalle en ‘n hoogste telling van 133* teen KHS insluit, het hierdie aanvangskolwer behoorlik aan sy opponente se boulwerk gesmul.
Vanjaar was Jansen van Vuuren een van die konstante staatmakers in Volkies se o.15A-krieketspan wat die Noordvaal halfeindrondtes bereik het. Hy het beslis met sy leierskapsvaardighede en kolfvermoë van die eerste bal af al grense verskuif.
Verder het Jansen van Vuuren ook natuurlik die o.15A Noordwesspan gehaal vir die nasionale week in Stellenbosch vanaf 7-11 Desember vanjaar en reeds in ‘n opwarmingswedstryd teen Noordelikes die afgelope week in Pretoria sy eerste honderdtal vir die provinsie teen top kwaliteit boulwerk aangeteken.
“Kapteinskap was vir my ‘n aanpassing in die begin, aangesien dit ‘n belangrike leierskapsrol is.
Dit is belangrik om die spel te verstaan en te weet hoe die spelers werk. Gelukkig het ons afrigter Duimpie (Wynand Schmitt) my baie daarmee gehelp en dit in my eerste jaar as kaptein makliker gemaak,” sê Jansen van Vuuren wat al sedert graad 8 vir die o.15A-span speel en vanjaar as kaptein vir Volkies na die Noordwestitel gelei het.

Niel Jansen van Vuuren

“Ek glo om ‘n wenspan te skep gaan meer as om net hard te oefen.
Ja, fiksheid was baie belangrik, maar om ‘n span as ‘n eenheid te laat funksioneer moet daar ‘n band tussen die spelers wees.
Dit was so met ons hierdie jaar en ek sou sê dat ons werklik as broers saamspeel.
Dit is dan veral makliker om die druk te hanteer,” verduidelik Jansen van Vuuren.
Volgens hom hou hy daarvan om sy oog in te kry en tyd te spandeer op die kolfblad en dit het sover baie vrugte afgewerp.
Hy het ook ‘n spesiale plek in sy hart vir die honderdtalle wat hy vanjaar aangeteken het.
“Die honderdtal teen Gimmies was spesiaal omdat dit ons grootste teenstanders is.
Die honderd teen Rustenburg, omdat hulle aanvangsboulers die beste in die provinsie is; en dan die honderdtal teen Noordelikes op provinsiale vlak aangesien dit my eerste een vir Noordwes is.”
Jansen van Vuuren was al van sy laerskoolkrieketdae ‘n aanvangskolwer en het jaar na jaar verbeter tot hy in 2018 behoorlik naam gemaak het.
“Ek hou daarvan om van die eerste bal af in die middel te wees.
Sedert laerskool (Baillie Park) speel ek as ‘n aanvangskolwer en ‘n mens leer hoe om rustig te speel en nie elke bal te jaag nie.
“Ek het van Graad 3 af al vir die o.11-span gespeel en toe in Graad 6
en 7 vir mnr. Rieme Redelinghuys se span,” vertel Jansen van Vuuren.
Natuurlik is dit ook belangrik vir enige openingskolwer om ‘n bestendige kolfvennoot te hê en volgens hom kolf hy en sy mede Volkie en Noordwes spanmaat, Waldo Kemp, goed saam.
“Ons kommunikeer goed saam op die veld en verstaan mekaar se spel. Ek hou meer daarvan om houe te speel en lopies te maak, terwyl Waldo meer een’s en twee’s maak.
Ons komplementeer mekaar goed,” noem hy.
Jansen van Vuuren se kriekethelde is die Australiese linkerhandse aanvangskolwer, David Warner, omdat hy die boulers domineer sowel as die Proteas se JP Duminy wat volgens hom die mooiste dekpunt dryfhou speel. Eendag sal dié kolwer ook graag die eer wil hê om vir die Proteas te speel, maar hy weet dat daar nog baie voorlê voordat hy sy grootste droom bereik. “Ek sal graag kyk in die toekoms om vir die Noordwes Dragons te speel en konstant te presteer.
Dit sal ook ‘n opsie wees om in Engeland krieket te speel, maar daar is nog baie wat voor dit moet gebeur,” sê Jansen van Vuuren.
“Die belangrikste vir enige goeie krieketspeler is om in jouself te glo. As jy weet dat jy goed genoeg en teen die bestes kan presteer, dan kan ‘n mens die hoogste vlak bereik.”

Exit mobile version