SportSport

Gimmies se o.15 netbalspan wil in Singapoer naam maak

Singapoer roep vir Potchefstroom Gimnasium se uitstaande o.15A-netbalspan wat nou hulle skool en land by die gesogte internasionale jeugkampioenskappe wat vanaf 24 tot 30 November gehou word, gaan verteenwoordig. Hierdie nege dogters het sover onder die afrigting van die voormalige NWU-doel, Marike Maree, vanjaar kookwater netbal gespeel en met hulle tweede plek in Augustus by …

Singapoer roep vir Potchefstroom Gimnasium se uitstaande o.15A-netbalspan wat nou hulle skool en land by die gesogte internasionale jeugkampioenskappe wat vanaf 24 tot 30 November gehou word, gaan verteenwoordig.
Hierdie nege dogters het sover onder die afrigting van die voormalige NWU-doel, Marike Maree, vanjaar kookwater netbal gespeel en met hulle tweede plek in Augustus by die Kay Motsepe SA Skole Netbaltoernooi, hul plek by dié gesogte internasionale toernooi bevestig. Net die top twee spanne in Suid-Afrika kan aan hierdie toernooi deelneem.

“Dit is ‘n groot voorreg om jou land oorsee te verteenwoordig en hierdie span van my het deur die loop van die jaar gewys wat met harde werk gedoen kan word. Daar is ‘n vreeslike opgewondenheid vir hierdie toernooi,” het Gimmies se o.15A-afrigter, Marike Maree, genoem.

Hierdie span sal in groep B teen spanne soos Mount Albert Grammar School (Nieu-Seeland), Singapore Sport School Rangers (Singapoer, Hong Kong Academy (Hong Kong) en Melville Senior High (Australië) deelneem. Daar sal ook vyf uitspeelwedstryde plaasvind wat kwart, half en eindstryde sal insluit.

Volgens Maree gee hierdie toernooi juis vir Gimmies die geleentheid om hulle netbal verder te verbeter.
“Om aan so ‘n toernooi deel te neem, is ’n wonderlike ervaring vir al nege spelers om verder in die toekoms dit wat hul geleer het, te kan implementeer.
“Ek voel die kinders het hard gewerk en vir my is dit belangrik dat hulle dit voluit geniet.
“En dat dit regtig net ‘n fantastiese ervaring vir hulle sal wees en hulle sal groei as ‘n span.”

Buiten hulle puik spel op die baan moes hierdie span ook van die baan af harde werk insit en fondse insamel om seker te maak dat die kostes vir so ‘n toer gedek kan word. Ons wil ook net dankie sê vir al die borge, ouers en almal wat ons ondersteun het en hierdie droom ‘n realiteit kan maak,” het Maree uitgebrei.

* Die span vlieg Maandag, 19 November en keer op 1 Desember weer terug van hulle netbalavontuur met nuwe ervaringe en dalk nog ‘n gouemedalje om hul nekke.

Gimmies se o.15A-span na Singapoer:
Jacqueline van Rooyen (kaptein), Ilse Roodt, Milana van der Merwe, Christine Steyn, Alecia Nagel, Chanél Smit, Wiané Joubert, Ruandi Steinmann, Alsuné du Toit. Afrigter: Marike Maree. Spanbestuurder: Jackie van Rooyen

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button